5 Feite oor jakarandas

Deur Ilze Nieuwoudt

Jakarandas is sinoniem met Pretoria – derhalwe is die stad ook bekend as die Jakarandastad. Dié bome vorm deel van die stad én Suid-Afrika se ryke groenerfenis. Hier is vyf vinnige feite oor dié bome:

1. Jakarandas is inheems aan Suid-Amerika en die naam “jakaranda” is die eerste keer in 1789 opgeteken deur die Franse botanis Antoine de Jusseau toe hy dié bome in Brasilië beskryf het.

2. Die tuinboukundige baron Carl Ferdinand Heinrich von Ludwig was die eerste persoon wat jakarandabome na Suid-Afrika gebring het. Hy het dit teen min of meer 1830 na die Kaap gebring.

3. Die eerste jakarandas is in 1888 in Pretoria geplant én hulle staan steeds! Jacob Daniël (Japie) Celliers wat in Sunnyside gewoon het, het twee bome by ’n handelsreisiger wat in die verkope van plante gespesialiseer het, ene Tempelman, gekoop. Celliers het dié twee bome in die Myrtle Lodge se tuin geplant (vandag deel van die Sunnyside Primary School se skoolterrein, geleë te Celliersstraat 146).

4. In 1906 het die besigheidsman James D. Clark, wat ’n kwekery in die teenswoordige buurt Riviera gehad het, 200 jakarandabome aan Pretoria geskenk ter die viering van die stad se 51ste bestaansjaar. Dié bome is langs die toenmalige Kochstaat (nou Bosmanstaat) en in Arcadiapark geplant. Hiermee het ’n tradisie van die aanplant van jakarandas langs Pretoria se strate begin. Die meerderheid van dié bome is op 16 November 1906 deur skoolkinders geplant.

5. Daar is tans nagenoeg 100 wit jakarandas in Pretoria. Dié bome staan veral in Herbert Bakerstraat in Groenkloof en in die Wonderboompoort-gebied. Die wit jakarandas is in 1962 deur die direkteur van die arboretum in Los Angeles aan die stad geskenk en het in 1965 die eerste keer geblom.

Bonusfeit: Daar word gereken dat daar tans nog sowat 37 000 jakarandas in Pretoria is. Sommige meen wel dat dié syfer selfs soveel as 65 000 kan wees, maar sluit waarskynlik ook omliggende gebiede buite die stad se grense in.

(Belangrik: Jakarandas is wel uitheems aan Suid-Afrika, maar het steeds kultuurhistoriese waarde. Volgens ’n studie deur dr. Anton van Vollenhoven word jakarandas in Gauteng, Noordwes, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal nie meer as indringers geag nie en word derhalwe aanvaar as deel van die omgewing. Hy skryf voorts dat jakarandas wat in die Tshwane-metropool – waarvan Pretoria deel is – weens natuurlike oorsake sou sterf, vervang moet word. Boonop moet jakarandas wat in die pad van ontwikkeling staan, elders herplant word.)

Similar Posts