AfriForum gaan hof toe oor hernuwing van bestuurslisensiekaarte hernuwings

Deur Marthinus Koekemoer

AfriForum sal op 7 en 8 Augustus ’n aansoek by die Hooggeregshof in Pretoria indien waarin dié burgerregteorganisasie aanvoer dat die regulasie in die verkeerswet om bestuurslisensiekaarte elke vyf jaar te hernu onder meer onbillik en vaag is en dus ongeldig verklaar moet word.

In die aansoek versoek AfriForum die hof ook om ’n uitspraak te lewer wat sal bepaal dat motoriste nie beboet mag word indien hulle nie ’n nuwe bestuurslisensiekaart by hulle het nie, want daar word nie in die verkeerswet hiervoor voorsiening gemaak nie.

“Ons regspan het regtelike en praktiese gronde gevind waarvolgens dié aansoek toegestaan kan word. Wat die reg betref, is die Nasionale Padverkeerswet 93 van 1996 te vaag om toegepas te word. Daar word nie behoorlike onderskeid getref tussen ’n bestuurslisensie en ’n bestuurslisensiekaart nie. Dit word ook nie duidelik gestel dat motoriste vir ’n nuwe kaart moet aansoek doen wanneer dié kaart verval het nie. Voorts word daar geen melding daarvan gemaak dat dit ’n oortreding is om te bestuur met ’n kaart wat verval het nie, of hoeveel so ’n motoris beboet moet word nie, en of motoriste op enige ander wyse gestraf moet word nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

Duisende motoriste het al hul frustrasie te kenne gegee oor uitdagings om bestuurslisensiekaarte te laat hernu. Dit het verlede jaar aan die lig gekom dat die Departement van Vervoer se enigste lisensiekaartdrukker onklaar geraak het, wat tot ’n maandelange agterstand gelei het. Die drukker moes na Duitsland gestuur word om herstel te word en het intussen weer ’n slag gebreek.

’n Ander uitdaging wat veral motoriste in Gauteng ondervind, is om hernuwingsafsprake by ’n lisensiekantoor te maak. ’n Rekenaarstelsel word in Gauteng gebruik, waarvolgens ’n sekere getal afsprake per dag per lisensiekantoor beskikbaar gemaak word. Daar is egter bestuurskole wat pal op die stelsel boer en grootskaalse besprekings vir hul leerlinge maak, wat dit vir ander motoriste uiters moeilik maak om plek te bespreek.

Daar is ook grootskaalse korrupsie by sommige lisensiekantore, wat strek van karwagte tot personeel binne die gebou wat in sommige gevalle elke dag duisende rande maak uit omkoopgeld wat motoriste opdok om wel ’n afspraak te kan maak. AfriForum het verlede jaar ’n video bekendgestel juis om dié korrupsie oop te vlek. Kyk hier na die video. Voeg jou naam gerus by die petisie om AfriForum se stem in die hof sterker te maak om die hernuwing van bestuurslisensiekaarte te stop. Doen dit hier. Sou AfriForum se aansoek slaag, kan dit beteken dat die regering die publiek vir meer as 20 jaar lank wederregtelik gestraf het.

Hierdie artikel het oorspronklik in Forum Nuus verskyn

Similar Posts