Alles wat jy moet weet om geboorte te gee in Engeland – Deel 2

Deur Andri Johnston

LEES OOK: Alles wat jy moet weet om geboorte te gee in Engeland – Deel  1

Jy kan dit nog steeds nie glo nie: Die blou strepie op die swangerskaptoets het positief gewys en oornag jou hele wêreld verander. Die opwinding loop hoog en daar is so baie om aan te dink en te beplan. Een ding waaroor alle buitelanders onseker is, is hoe presies die geboorteproses in ’n vreemde land werk. En laat ek jou vertel, om in Engeland geboorte te gee, verskil hemelsbreed van dit waaraan jy en jou familie in Suid-Afrika gewoond is. So hier is alles wat jy moet weet.

Terwyl ek hier skryf, is ons dogtertjie drie maande oud. Ek het gesukkel om die geboorteproses met behulp van die Britse National Health Service (NHS) te verstaan. Alles was vreemd en het my gefrustreer. En om vir my familie in Suid-Afrika te verduidelik hoe ’n stelsel met vroedvroue (“midwives”) werk, was nog moeiliker. Dis hoekom ek ’n hoe-om-te-lysie wil maak vir toekomstige Suid-Afrikaanse mammas wat in Engeland moet geboorte skenk. Dalk kan dit die proses vir julle ’n bietjie minder stresvol maak.

Watse ondersteuning kan jy tydens jou swangerskap en na die geboorte van die NHS verwag?

Indien jou swangerskap sonder komplikasies is, hoef jy nie ’n sent uit jou eie sak te betaal vir jou swangerskap, die geboorte of nageboortediens nie. Alle koste word deur die NHS gedek. Jy dra wel met jou belasting by tot die NHS. Dit beteken nie die diens wat jy ontvang is presies dieselfde as Suid-Afrika se privaat mediese dienste nie, maar oor die algemeen is dit goed. Jy kan ook die volgende verwag:

  • Twee skanderings – een op ongeveer 12 weke en weer op 20 weke. Vir die eerste skandering maak jy ’n afspraak tydens jou 10 weke afspraak en vir die 20 weke skandering tydens jou 12 weke afspraak. As jy graag nog skanderings wil hê, sal jy dit privaat moet laat doen en daarvoor betaal.
  • Alle bloed-, glukose- en ander toetse word deur die NHS gedoen. Hulle toets vir ’n magdom goed, van Downsindroom tot of jou en jou baba se bloed versoenbaar is. Die bloedtoetse kan deur jou vroedvrou of by die hospitaal gedoen word; ek het verkies om dit by die hospitaal te laat doen. Die baie toetse gee ’n mens baie gemoedsrus, want jy weet hulle sal sien as daar fout is met jou baba. Die NHS ondersteun ouers ook baie goed as ’n probleem wel opgespoor word.

Wenk: Die vroedvrou mag dalk voorstel dat jy ’n glukosetoets laat doen omdat jy van Suid-Afrika af kom. Tensy jy diabetes in jou familie het of jou BMI hoog is, het jy die volste reg om te weier om daardie toets te laat doen.

  • Maandelikse besoeke aan of van jou vroedvrou. Die aantal besoeke aan of van jou vroedvrou hang af van die hoeveelste baba dit is wat jy verwag. As dit jou eerste baba is, sal daar meer besoeke wees. Jou vroedvrou kan jou tuis besoek (jy kan spesifiek daarvoor vra) of jy kan haar by ’n gemeenskapsentrum gaan besoek.
  • 24 uur-toegang tot noodsorgprioriteitsbepaling. Dit is ’n ongelooflike diens en het ons keer op keer gerusgestel. Jy kan jou hospitaal se swangerskap-ongevalle enige tyd van die dag of nag bel of besoek om gemonitor of ondersoek te word. Hulle is baie daarop ingestel dat jy moet hospitaal toe gaan om gemonitor te word as jy jou baba enigsins minder as gewoonlik voel beweeg. Ons het ’n hele paar keer daarheen gegaan en hulle het my elke keer baie professioneel hanteer, gemonitor en ondersoek. Jy gaan nie elke keer dieselfde vroedvroue en dokters sien nie, maar as jy ’n paar keer gaan, leer jy tog ’n klompie gesigte ken en dit help baie wanneer die geboortedag aanbreek.

Wenk: Ek sal regtig voorstel dat jy die swangerskap-ongevalle ten minste een keer voor jou baba se geboorte besoek om die hospitaal en ’n paar van die vroedvroue en dokters te leer ken. Dit sal jou baie meer gerus laat voel wanneer die groot dag aanbreek.

  • Nageboortesorg vir jou en baba. Dit word ook deur die NHS gedek, ongeag hoe lank julle in die hospitaal moet bly of watse toetse gedoen moet word. Al wil jy dalk so gou as moontlik huis toe gaan (ek wou baie graag, maar moes vier dae in die hospitaal spandeer), stel dit jou gerus om te weet dat hulle alles wat moontlik is sal doen om jou en jou baba gesond te hou of te maak terwyl jy in die hospitaal is. Jou baba se gehoor, sig en heupe word ook behoorlik getoets voor jy ontslaan word.
  • Nageboortelike inentings vir jou baba. Hulle sal jou vra of jy wil hê jou baba moet direk na geboorte ’n vitamien K-inspuiting kry. Dit help met bloedstolling en amper alle babas in Engeland kry dit. Jy kan jou eie navorsing doen en besluit of jy dit wil laat toedien. Die dokters kan ook voorstel dat jou baba ’n tuberkulose-inenting kry omdat jy van Suid-Afrika af kom. Dit is weereens jou keuse en glad nie verpligtend net omdat jy Suid-Afrikaans is nie.
  • Nageboortelike bloedtoetse, tongknoopdiens en ondersteuning met borsvoeding. Hierdie dienste is gratis, maar die gehalte daarvan en die spoed waarteen jy en jou baba dit ontvang, hang af van jou NHS-vereniging en hospitaal en van die beskikbaarheid van personeel.
  • Alle inentings vir jou baba by jou huisdokter. Jou baba word op 8, 12 en 16 weke ingeënt. Dit en alle toekomstige inentings word deur die NHS gedek. Sodra jy ontslaan word, sal jou vroedvrou jou huisdokter laat weet en hulle sal dan jou eerste inentingsafspraak maak vir ongeveer 8 weke na geboorte; hulle sal jou per pos laat weet wanneer die afspraak is. Jou baba word met elke besoek ondersoek en geweeg. Dit help baie dat hulle die afsprake vir jou maak, veral in die eerste paar weke na die geboorte, maar dit beteken jy kan nie ’n datum kies wat vir jou die beste is nie.
  • Die eerste maand se vitamines vir jou en jou baba. Jou baba kry gewoonlik vitamien D-druppels en jy kry ’n multivitamien. Jy kry ongelukkig net een bottel van elk, maar dis ’n goeie begin.

Privaat dienste wat dalk nodig sal wees maar waarvoor jy sal moet betaal

  • Ekstra skanderings. As jy meer as die twee skanderings op 12 en 20 weke wil hê, sal jy dit privaat moet laat doen. Jy kan dit by ’n privaat kliniek laat doen of by die hospitaal, maar daar is die waglys gewoonlik baie lank.
  • Tongknoopdiens en ondersteuning met borsvoeding. Hoewel dié dienste deur die NHS beskikbaar is, is die wagtye soms baie lank en die diens is nie altyd van ’n baie goeie gehalte nie, daarom besluit baie mense om privaat dienste te gebruik.
  • Fisioterapie tydens swangerskap. Die NHS bied fisioterapeutiese dienste maar eers na 20 weke. As jy dit tydens jou eerste trimester benodig (ek het ongelukkig verskriklike heup- en rugpyn gehad), sal jy privaat dienste moet gebruik.
  • Fisioterapie of Mummy MOT na geboorte: Nadat jou vroedvrou jou ontslaan het, is daar amper geen ondersteuning of ondersoeke vir jou as ma nie. Omdat vroedvroue nie dokters is nie, en omdat jy nie ’n ginekoloog het nie, moet jou huisdokter alle mediese ondersoeke doen, ook van jou keisersneewond. Ongelukkig is die huisdokters so besig dat sulke ondersoeke selde gedoen word. Die enigste nageboortelike ondersteuning wat jy kry, is gewoonlik ’n telefoonoproep van die dokter om te vra hoe jy voel. Dit kan jou onseker laat voel of jy fisies reg is om byvoorbeeld weer te begin oefen (ek wou graag weer begin hardloop). Sekere fisioterapeute lewer ’n privaat diens genaamd Mummy MOT. (“MOT” is die term wat gebruik word vir ’n motor se jaarlikse padwaardigheidstoets.) Dit is nie goedkoop nie, maar as jy ’n aktiewe persoon is, pyn het of tydens die geboorte komplikasies gehad het, sal ek dit aanbeveel. Hulle ondersoek jou pelvis, bekkenbeen en maagspiere en doen ook ’n inwendige ondersoek om te verseker dat daar geen inwendige probleme is nie.

Laaste admin om te onthou

Iets waarvan ’n mens maklik kan vergeet in die deurmekaar tyd van swangerskap en geboorte, is dat jou baba in die Verenigde Koninkryk én in Suid-Afrika geregistreer moet word. Dis belangrik dat jy jou baba binne die eerste 30 dae na geboorte by die Suid-Afrikaanse ambassade in Londen registreer en sommer terselfdertyd aansoek doen vir ’n paspoort vir hom of haar. Vir die registrasie moet jy per e-pos ’n afspraak met die ambassade maak. Albei ouers moet tydens die registrasie teenwoordig wees. Dit kan tot ses maande vat om die Suid-Afrikaanse geboortesertifikaat en paspoort te kry, maar ons het ons baba s’n binne drie maande ontvang. Die grootste uitdaging is om ’n foto van jou maand oue baba met oop oë te neem vir die paspoort. Ek sal voorstel dat jy jou baba na ’n fotowinkel neem waar hulle gereeld foto’s van kinder- en babapaspoorte neem.

Finale gedagtes

Dit kan moeilik wees om die verskille tussen swangerskapsorg en geboorteprosesse vir familie en vriende in Suid-Afrika te verduidelik. Persoonlik het dit my aan die begin baie alleen laat voel. Maar een ding rakende swangerskap en geboorte in Engeland waaroor ek baie positief is, is dat daar baie ondersteuningsnetwerke is (al vat dit soms lank voordat jy dit ontvang). Onthou, jy is nie alleen nie. Die NHS is baie ernstig oor die gesondheid van swanger vroue en babas. Jy is in goeie hande.

My beste raad vir Suid-Afrikaners wat beplan om in Engeland geboorte te gee, is om jou eie navorsing te doen en nie alles wat die vroedvroue sê net blindelings te aanvaar nie. Jy het die reg om te enige tyd nee te sê of te vra vir ander of beter diens. Alhoewel jy tegnies nie vir die NHS betaal nie, word dit uit jou belasting befonds, daarom het jy die volle reg op ’n diens wat jou gemaklik, veilig en gesond laat voel.

Similar Posts