Beplan nou al vir Geloftedag 2022

Deur Alana Bailey

Oor minder as ’n maand is dit Geloftedag en herdenk Afrikaners wêreldwyd weer eens die Gelofte van 1838. Hierdie Gelofte is die eerste keer op 16 Desember 1838 op die slagveld van Bloedrivier herdenk toe die Voortrekkers daar ’n dankdiens na afloop van die veldslag gehou het. Daarna is dit jaarliks informeel gevier.

In 1864 het twee predikante, di. Piet Huet en Jan Lion Cachet, besluit dat die “dankdag” (soos hulle dit genoem het) jaarliks amptelik kerklik herdenk moet word. In 1866 het is ’n groot fees op die slagveldterrein gereël. Op die oggend van 16 Desember 1866 het Cachet oor Exodus 17 vers 15 gepreek (waar beskryf word hoe ’n altaar tot eer van die Here gebou word), waarna ’n ete gevolg het. Die middag het die aanwesige mans en seuns ’n klipstapel as gedenkteken aan die Slag van Bloedrivier opgerig. Dit is gedoen op die plek waar die middel van die laer van 1838 na bewering was. ’n Groep Zoeloes het hand bygesit deur klippe nader te rol. Na die tyd het die kinders wat die fees bygewoon het, gesing en Cachet het ’n herdenkingstoespraak gehou waarin hy weer die noodsaak om die dag te herdenk en om sendingwerk te doen, bepleit het. Na afloop van die toespraak het oud-stryders hulle herinneringe aan die slag vertel. Intussen het Cachet deur middel van ’n tolk vir die swart werkers wat saam na die fees gekom het, asook die Zoeloes wat in die omgewing woon en kom kyk het wat daar gebeur, gepreek. Hy het vertel dat hy die oggend ’n boodskap van die Zoeloekoning, Cetshwayo, gekry het waarin die koning verklaar het dat hy bly was dat ’n predikant op die plek kom kerk hou het. Cachet het Cetshwayo laat weet dat ’n gedenkteken met die naam “Vrede” op die terrein opgerig sou word. Hy het die hoop uitgespreek dat harmonie voortaan tussen die Zoeloes en ander Natallers sou heers. Die dag se verrigtinge is met gebed en sang afgesluit.

Hierdie buitelugfees het die grondslag vir die formaat van duisende toekomstige Gelofteherdenkings gelê. Die laertrekproses, dienste en toesprake deur oud-stryders het jare lank ’n integrale deel van feeste uitgemaak.

In die Transvaalse Republiek is 16 Desember van 1865 af as vakansiedag erken en in die Oranje-Vrystaat van 1894 af. Met die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika het dit ’n nasionale vakansiedag geword.

Om vas te stel watter feeste vanjaar in jou omgewing plaasvind, kan jy gerus die 2022 Geloftefeeskalender raadpleeg. Dit is pas deur DitsemBlits digitaal beskikbaar gestel by https://www.ditsem.net/ditsem/images/pdf/geloftefees/Geloftefeeskalender2022.pdf. Vanjaar word ’n rekordgetal van 187 feeste en dienste gelys. AfriForum is trots daarop om sedert die begin van dié lofwaardige projek van DitsemBlits as borg daarby betrokke te wees. Die kalender word digitaal versprei.

Die foto’s is in 2013 by Bloedrivier geneem – die klippe is die oorblyfsels van 1865 se stapel.

Indien iemand weet van ’n Geloftefees of -diens wat nie gelys is nie, kan hulle die inligting stuur aan gelofte@ditsem.net of 082 773 2150.

Similar Posts