Besigheidsbytjies en Juniorpreneurs se AfriForum Wêreldwyd-kategorie wenners

Tydens AfriForum se Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie vanjaar was daar weer hope talent! Leerders van regoor Suid-Afrika – en vanjaar ook van ander dele van die wêreld – kon vir hierdie aanlyn entrepreneurskompetisie inskryf.

Daar is verskeie kategorieë wat vir leerders van graad 1 tot graad 12 ’n platform bied om vir hierdie kompetisie te kan inskryf. Vanjaar was daar ook twee splinternuwe kategorieë, naamlik die Saai-kategorie (vir leerders met ’n liefde vir landbou) en die AfriForum Wêreldwyd-kategorie (vir Suid-Afrikaanse leerders in die buiteland met ’n liefde vir sake).

Laerskool: AfriForum Wêreldwyd – Liplekkerlollies (Christo Esser)

Ek is mal oor roomysstokkies of yslollies, en wou graag dit self maak met die geure waarvan ek hou, sonder enige onnodige suiker en preserveermiddels soos in sommige van dié wat ’n mens in die winkel kry. Dit is ’n produk wat ek in my nabye omgewing kan verkoop, dit is iets waarvan almal sal hou, oud en jonk! Dit is bekostigbaar, nie ongesond nie en die verpakking neem die omgewing in ag!

Lees meer hier: https://besigheidsbytjies.co.za/projects/christo-esser/

Christo (10) woon in Skotland en hy was baie bly en trots toe hy die nuus gekry het dat hy die wenner van AfriForum Wêreldwyd se entrepreneurskategorie is. “Ek het vir my vriende vertel en dit was lekker om aan ’n kompetisie in Suid-Afrika te kon deelneem, selfs al woon ons in die buiteland.” Hy is nie heeltemal seker wat hy met sy prysgeld gaan maak nie, want dit is nou eers winter by hulle. Hy sal dalk ’n paar nuwe dinge vir sy onderneming koop as dit weer somer is. Die res van die geld sal hy spaar.

“Hierdie onderneming is ’n goeie leerskool, want dit leer my die basiese dinge van entrepreneurskap (navorsing, bemarking, begrotings en so meer). Ek sal graag my stalletjie by meer plekke wil sien en ook my afleweringsdiens wil verbeter en uitbrei. Ek sal dalk ook ander goed wil doen soos om programmeringsklasse vir vriende aan te bied – of enigiets met rekenaars te doen! Ek wil graag programmering studeer, want ek sal daarvan hou om rekenaarspeletjies te ontwikkel!”

Hoërskool: AfriForum Wêreldwyd – Little Sketchy (Marcelle Bodenstein)

Ek is kreatief en help ander jong, ideëryke entrepreneurs soos myself om hul eie handelsmerke te ontwikkel wat uniek en enig in sy soort is. Ek bied dienste vir grafiese ontwerp en illustrasies aan.

Lees meer hier: https://besigheidsbytjies.co.za/projects/marcelle-bodenstein/

Marcelle (17) woon in Namibië en sy is vreeslik opgewonde omdat sy die wenner van AfriForum se Wêreldwyd-kategorie is. Sy voel geseënd omdat daar soveel nuwe geleenthede vir haar is en sy is dankbaar vir elkeen wat haar gehelp het om haar onderneming te begin en in haar geglo het. Sy gaan ’n skryftablet met ’n pen met haar prysgeld koop, want dit sal haar help om haar illustrasies vinniger en meer konsekwent te maak. Dit sal haar ook help om nuwe tegnieke en maniere aan te leer om haar onderneming te verbeter.

“Oor tien jaar van nou af sal ek daarvan hou om my eie ateljee te hê, waarin ek skeppend kan wees en werk. Dit sal vir my wonderlik wees om van my eie illustrasies in kinderboeke en in advertensies te publiseer. Ná skool wil ek graag soveel moontlik van my talente verken, sodat ek dit kan ontwikkel en op ’n nuttige manier kan gebruik.”

Besoek gerus www.besigheidsbytjies.co.za vir meer inligting oor AfriForum se Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie.

LEES OOK: Besigheidsbytjies en Juniorpreneurs se wenners en naaswenners vir 2022: Uit die mond van die suigeling

Similar Posts