Boeliegedrag: tree proaktief op!

Deur Leandie Bräsler

Die woord “boelie” het die afgelope dekade ’n gonswoord geword wat nie net in die gange van Suid-Afrika se skole weergalm nie, maar ook in die lewens van volwassenes, soos by werksplekke en selfs by ouetehuise en aftree-oorde. Dit maak boeliegedrag nie net ’n kinderprobleem nie, maar ook ’n deurlopende menslike probleem. Dit is ook ’n wêreldwye probleem wat verdere sosiale implikasies veroorsaak wat na geweld en misdaad lei.

Daar moet wel in ag geneem word dat alles nie noodwendig as boeliegedrag gesien kan word nie – konflik en boeliegedrag kan baie maklik met mekaar verwar word. Boeliegedrag word gedefinieer as skadelike of aggressiewe gedrag wat op ’n aanhoudende en deurlopende wyse plaasvind en spesifiek gerig word op ’n leerder (of persoon) met minder gesag en selfvertroue as die aanvaller. Konflik, aan die ander kant, is normaal en deel van ons alledaagse lewens. Konflik is ’n meningsverskil of argument waarin beide kante hul mening uitspreek. Tydens normale konflik sal kinders hul gedrag monitor om sodoende leidrade te lees. Indien hulle sien dat dinge te vêr gaan, sal hulle hul gedrag verander. Kinders wat deur empatie gelei word, besef wanneer hulle besig is om iemand seer te maak en sal dan gewoonlik die gedrag stop sodat iemand nie bewustelik seergemaak word nie. Konflik kan oorgaan tot boeliegedrag, indien hulle met die skadelike gedrag voortgaan met die doel om iemand seer te maak.

Ten spyte van die voortdurende toename in wêreldwye navorsing oor die laaste dertig jaar, veral oor die oorsake en gevolge van boeliegedrag in skole, is daar nie veel navorsing gedoen oor hoe skole en ouers hierdie probleem kan teëstaan nie. Skole kan ingryp deur die volgende te doen: Skole moet ’n teenboeliebeleid hê en hierdie beleid moet met die onderwysers, beheerliggaam, leerders en ouers van die skool bespreek word; klaskameraksies teen boeliegedrag moet deur onderwysers geneem word, waar empatie, proaktiewe aksies en positiewe gedrag van omstanders bevorder word; portuurgroepondersteuning is nodig, soos om ’n “maatjie-stelsel” of ’n “boelieraad” in plek te sit, waar ouer kinders as leiers optree deur ondersteuning aan jonger kinders te bied. ’n Skool moet ’n veilige hawe wees waar slagoffers gewillig sal wees om met hulle onderwyser of met die sielkundige of berader by die skool te praat indien hy/sy geboelie word, sodat daar dadelik opgetree kan word en proaktiewe stappe deur die skool geneem kan word voordat die situasie handuit ruk. Onderwysers moet gereeld tydens hulle klasse kinders bewus maak van die gevare van boeliegedrag en wat gedoen kan word om boeliegedrag hok te slaan – op so manier word die kinders ook bemagtig om proaktief op te tree.

Indien jy ’n bekommerde ouer is en nie seker is of jou kind ’n teiken van afknouery is nie, mag die onderstaande tekens van afknouery vir jou ’n aanduiding gee:

  • onwilligheid om skool toe te gaan
  • verandering in slaappatrone
  • verandering in geaardheid
  • vriendverskuiwings
  • akademiese prestasies of punte wat daal
  • veranderde eetgewoontes
  • depressie;
  • onverklaarbare beserings soos kneusplekke, snye of krapmerke;
  • beskadigde of verlore skoolboeke, klere, of elektroniese toestelle
  • gereelde klagtes oor maagpyn, naarheid, hoofpyn of dat hy/sy siek voel

Indien van hierdie bogenoemde tekens by jou kind voorkom, is kommunikasie jou grootste prioriteit: praat met jou kind. Soms maak kinders nie oop oor wat werklik op die stoepe by die skool of agter toe deure (soos op hulle selfone) of in hulle harte aangaan nie. Een manier om so situasie te hanteer is om jou vrae aan jou kind minder persoonlik (of reguit) te stel. Jy kan byvoorbeeld noem dat ander mense ook boeliegedrag beleef deur in generiese terme oor die probleem te praat. Later kan jy meer persoonlike vrae aan hulle rig, nl.:

“Ek het die afgelope tyd baie mense oor boeliegedrag hoor praat. Wat beteken dit vir jou? Was jy al ooit deur iemand geboelie? Is enige van jou vriende dalk ’n teiken van ’n kuberboelie op sosiale media? Indien wel, hoe het hul daarop gereageer?”

Tree proaktief op deur vir jou kind die volgende vaardighede en strategieë te leer:

  • Motiveer openlikheid en eerlikheid: Moedig jou kind aan om met jou of met sy onderwyser te praat indien hy bang voel, sodat hy hulp en perspektief oor die ander persoon se gedrag kan kry om sodoende boeliegedrag hok te slaan. Kinders kan maklik emosioneel vasgevang voel en daarom is dit vir hulle nodig om met ’n volwassene te gesels wat hulle vertrou.
  • Ontwikkel sosiale en emosionele vaardighede: Wanneer hierdie tipe vaardighede ontwikkel en aangeleer word, kan kinders makliker boeliegedrag hanteer. Dit is belangrik om empatie vir kinders te leer, want volgens Carolyn Zahn-Waxler, ’n navorsingswetenskaplike in sielkunde en psigiatrie by die Universiteit van Wisconsin, is empatie ’n vaardigheid wat aangeleer en ontwikkel kan word, selfs al van ’n baie jong ouderdom af. Dit bevorder emosionele welstand, help kinders om probleme op te los, om konflik te hanteer en om verhoudings te bevorder. Aktiwiteite oor hoe jy jou kind empatie kan leer, is beskikbaar in AfriForum se teenboeliegids: https://afriforum.co.za/wp-content/uploads/2021/09/Teenboeliegids.pdf.
  • Maak jouself los van die boelievoorval: Bemagtig jou kind deur vir hulle skerp, tog vriendelike frases te gee vir wanneer hulle geboelie word. Hulle kan ook humor gebruik om los te breek van ’n gespanne situasie. Dit sal hulle ook selfvertroue gee. ’n Ander opsie is om die boelie te ignoreer of hulle kan ook eenvoudige taal gebruik deur vir die boelie te sê: “Dit is nou genoeg! Hou asseblief op!” Onthou om vir hulle te sê dat hulle oogkontak moet behou en dat hulle met selfvertroue moet optree. Indien moontlik kan hulle wegloop van die situasie en die boelie ignoreer om ’n rusie te vermy.
  • Weet waarheen om te gaan: Help jou kind om ’n spesifieke persoon of plek te identifiseer, soos bv. die skool se kantoor, ’n onderwyser of die skool se sielkundige of berader, indien hulle bang voel.

As ouer, kan mens geneig wees om dadelik sterk te wil optree wanneer jou kind geboelie word. Dit is verstaanbaar, want jou kind bly jou kind en jy wil hulle beskerm. Pas op om nie dadelik na die skool te hardloop en met die eerste kind of onderwyser te baklei nie – emosies kan hoog loop. Deur te skree of om te sterk oor te kom, mag jy jou kind dalk in die verleentheid stel en sal dit veroorsaak dat hy jou nie van toekomstige boelievoorvalle sal vertel nie. Wees kalm, luister na jou kind sonder om dadelik te reageer, sodat hulle jou meer vertel oor wat gebeur het. Werk dan saam met jou kind en die skool sodat ’n aksieplan van stapel gestuur kan word. Wees deel van die oplossing! So kan jy jou kind ook help om vaardighede aan te leer en sterk te staan sodat hulle eendag in die grootmenswêreld teen boelies kan opstaan, want dan is jy as ouer nie daar om gevegte vir hulle te veg nie. Hulle sal self met dapperheid en selfvertroue kan optree. Onthou, respek is altyd belangrik!

Indien skole, ouers, kinders en onderwysers leer om proaktief op te tree deur mekaar te bemagtig, kan hulle sorg vir veilige skole. Veilige skole kweek ook veilige gemeenskappe – nie net nou nie, maar ook vir die toekoms. So kan ons help om gemeenskappe te vestig wat vry, veilig en voorspoedig is!

Besoek gerus www.teenboelie.co.za vir meer inligting.

Similar Posts