Desperaat? Volg dalk ’n boereraat!?

Deur Ilze Nieuwoudt

Boererate is nou verweef met die Afrikaner se kultuur en hoewel dit al tot ’n groot mate vervang is deur meer wetenskaplike behandelings, is daar sekere rate wat steeds slaafs gevolg word. Die “bybel” van Suid-Afrikaanse boererate Volksgeneeskuns in Suid-Afrika: ’n Uitgebreide versameling boererate is oorspronklik in 1965 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns uitgereik. Dit is weer in 2010 uitgegee. Hierin verduidelik die samestellers dat die doeltreffendheid van dié rate dikwels bloot op toeval berus en dat dit by sommige laglus en by ander afsku sal wek. Nietemin, of iemand aan die genesende krag van boegoebossie glo of dit sonder oordeel met die badwater uitgooi, een ding is seker, dié tradisie is ’n interessante deel van ons erfenis in die algemeen en ons groenerfenis in die besonder. Die gebruik om plante te vernoem na die siekte waarvoor dit as raat gebruik kan word, is algemeen in Suid-Afrikaanse volksgeneeskuns. Dink maar aan plante soos kankerbos (sien foto) maagwortel, teringbos, siektetroos en droog-my-keel (vir keelswelling). Die benamings van siektes, plante of middels word boonop in Afrikaans ietwat (en dikwels komies) verdraai, soos bromkatjies (vir bronchitis); pens-en-katjies (vir appendicitis); senuweeblare (vir sennablare) of duisendtree (vir disenterie). Gepraat van rate, hier is boererate wat aanbeveel is vir mondsere:

  • Kook braamtoppe, dagga, salie, roosmaryn en kruisement met asyn.
  • Pruim wildeals en spoeg dit kort-kort uit.
  • Kook ’n knypie koejawelblare met 1 koppie water, giet deur en sit ’n klein stukkie aluin daarin. Was die mond uit.

Is daar enige plante wat jy steeds as boereraat gebruik? Vertel ons meer!

Similar Posts