Die bitter, die soet en die bittersoet van emigrasie

Deur Charles Keyser

Ons het in 2004 na Australië geëmigreer. Waar bevind ons ons ná al die tyd? Hier is die paadjie wat ons gestap het.

Ons het Suid-Afrika (soos seker baie mense) verlaat omdat die bitter van vervreemding en ontworteling weens die land se agteruitgang (in ons oë) die soet van ons bekende, gevestigde lewe begin oorheers het.

Ons land in Adelaide in Mei 2004, werkloos en met twee klein dogtertjies. Ons voel nie ons pas in nie. Ons voel onbeholpe en dinge werk anders. En die seer van Suid-Afrika agterlaat lê vlak. Die bitter van vervreemding en ontworteling het nou ’n ander vorm en intensiteit aangeneem.

Vervaard spring ons weg en woeker met ons talente. Ons kry werke, maak “Aussie”-vriende, ry rond om die land te verken en so aan. Soos wat ons wortel skiet word die bitter minder en die soeter meer.

Ná so vyf jaar voel ons in beheer en op koers. Ons voel ons het ’n plek in ons nuwe land en ons dra by. Dinge is soet.

So terloops, die eerste werklike toets oor ons aanpassing kom in 2014 toe ons vir die eerste keer teruggaan Suid-Afrika toe. Ons voel meestal soos toeriste en dit is ’n verligting.

Ná 15 jaar begin ons gewaarwording verander. ’n Gevoel van vervreemding vat pos, ons ingeburgerde lewens ten spyt.

Baie van hierdie hervervreemding het te doen met die Australiese denkwyses.

Dis anders op diepe wyses en moeilik om omvattend te verduidelik – ’n mens moet seker maar ’n dekade of langer hier leef om dit te sien en voel. Hier is een byvoorbeeld: Hulle het ’n diepgesetelde siening dat “We deserve this or that.” Intrinsiek. Suid-Afrikaners dink in terme van “Ons moet streef.” Jy verdien niks.

Ná 18 jaar hier besef ons: Ons is “hier”, maar nie “van hier” nie. Tegelykertyd inwoners en bywoners.

Suid-Afrika sit in ons gebeente; Australië in ons sintuie.

Die lewe hier is bittersoet.

En dis goed so.

Groete uit Australië

Charles en Maritha Keyser

Similar Posts