Die een woord wat niemand mag gebruik nie

Deur Hendrika Jooste

Ons het al almal plasings op sosiale media gesien waarin mense grappenderwys Afrikaanse woorde of uitdrukkings verkeerd gebruik of direk uit Afrikaans in Engels vertaal. Dit loop gewoonlik uit op ‘n blaps wat die lesers of luisteraars laat skater en die skrywers of sprekers so in die verleentheid bring dat hulle onmiddellik spyt is oor wat hulle gesê het.

Ons boek waarsku mense teen die top vyf woorde of uitdrukkings wat hulle buite Suid-Afrika moet vermy. Woorde soos “Eish” en “Howzit” en frases soos “I speak English very deliciously” word in die meeste lande afgekeur. Die heel ergste is egter “Ah, shame”. In Suid-Afrika gebruik ons die woord “shame” om empatie met mense of hul omstandighede uit te druk. Dit dra innige simpatie uit die diepte van jou hart oor wanneer jy nie woorde het nie. Dit sê jy voel die ander persoon se pyn en wil graag uitreik en hom of haar net ‘n drukkie gee.

Ons sê gewoonlik: “Ag shame, arme jy!” Selfs Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners gebruik die woord “shame” in plaas van “siestog” of “foeitog”. Sommige skryf dit selfs as “sjym” of “sjympies”. Almal in die Suid-Afrikaanse kulturele konteks verstaan dat die woord opregte simpatie of empatie uitdruk. Maar hier kom die groot MAAR. Ons gebruik dit ook om sarkasme oor te dra, byvoorbeeld: “Ag shame, die Stormers het al weer verloor!” Deur verkleinwoorde soos “shamepies” of “sjympies” by te voeg, voeg ons nog ‘n dimensie by. Dit kan baie neerbuigend klink en ‘n neerhalende en meerderwaardige houding teenoor ander toon. Ons vertaal die uitdrukking “name and shame” in Afrikaans met “noem en verdoem”; dit is veroordelend.

In ander lande word “shame” as beledigend ervaar. Navorsing toon “shame” of “shaming” behels die afbreek van iemand se karakter of identiteit. Ons sê byvoorbeeld maklik iemand is nie juis gaaf nie: “Hy is so ‘n brombeer.” Skaamte is ‘n onaangename emosie wat ‘n mens selfbewus maak en wat dikwels geassosieer word met lae eiewaarde, die neiging om die handdoek in te gooi en gevoelens van pyn, blootstelling, wantroue, magteloosheid en waardeloosheid.

In haar boek Atlas of the Heart noem Brené Brown dat ons almal skaam is. Skaamte is universeel en een van die mees primitiewe emosies wat ons as mense ervaar. Die enigste mense wat dit nie ervaar nie, is diegene wat nie empatie en ‘n diep verbondenheid aan ander kan voel nie. Brené definieer skaamte as die intens pynlike gevoel of ervaring om te glo dat ons gebrekkig is en dus nie waardig is om liefgehê te word, te behoort of aan iemand verbonde te wees nie.

Skaamte kan diep gevoelens van tekortkoming, mislukking, minderwaardigheid, onwaardigheid en selfveragting veroorsaak. Ons fokus op onsself, isoleer ons van en onttrek ons aan ons omgewing en raak heeltemal in onsself ingekeer. Ons voel nie net vervreemd van ander nie maar ook van onsself. Die vervreemding van die wêreld het pynlike emosies, selfveragting en innerlike angs tot gevolg. Empiriese navorsing toon dat dit individue en groepe disfunksioneel maak.

Skaamte kan ook beskryf word as negatiewe selfevaluering wat lei tot ‘n onaangename gevoel van selfbewustheid. Skaamte kan die pynlike emosie wees wat volg as jy jou met jou eie standaarde vergelyk, maar dit kan ook die gevolg wees daarvan dat jy jou omstandighede vergelyk met ander se sogenaamd ideale omstandighede. Volgens Neda Sedighimornani is skaamte betrokke by verskeie sielkundige versteurings soos depressie, fobie of vrees vir sosiale interaksie en selfs sommige eetversteurings.

Deur ander te verneder, veroorsaak ons verskeie pynlike ervarings.

  • As jy dit herhaaldelik doen, laat dit die slagoffers verbitterd voel en plaas hulle op die verdediging, want hulle is aangeval en seergemaak.
  • Hulle sal nie in die toekoms sommer weer hulle ervarings met jou deel nie en dit sal julle verhouding mettertyd benadeel.
  • Dit kan die slagoffers se selfvertroue op die lang termyn skaad.

Suid-Afrikaners wat in verskillende dele van die wêreld reis en woon, word voortdurend gekritiseer oor hulle gedrag by die werk en in hulle omgang met ander. Ander kultuurgroepe ervaar ons as dwars en eiewys, aggressief en veroordelend. Die meeste mense in die Verenigde Koninkryk en hier in Australië vind dit afkeurenswaardig of selfs afstootlik. Op jou “Ah, shame,” sal Australiërs dikwels reageer met “Hoekom dink jy dis ‘n skande?” Miskien is die woord “shame” een van die redes waarom sommige burgers van ons gasheerlande so negatief teenoor ons is.

Miskien is dit ook hoekom so baie van ons liewer in ‘n motor sal bly, skei of oppak en teruggaan Suid-Afrika toe as om hulp te vra. Dit is ‘n skande om op jou migrasiereis oorbodig verklaar te word, as jou verhouding misluk of as jy sukkel met jou geestesgesondheid. Jy bly eerder in jou kar as om vir staatshulp te vra. Jy blameer liewer jou maat, kry ‘n egskeiding en skeur jou gesin uitmekaar as om vir berading te gaan. En jy gaan eerder terug huis toe en beswadder jou gasheerland en sy mense as om mediese hulp te kry vir jou geestesgesondheidskwessies. Deur ander te verneder, verneder ons ook onsself sonder dat ons dit so bedoel.

Ek weet dit is moeilik om ‘n gewoonte af te leer wat nie net diep in jou kultuur ingewortel is nie, maar ook deur jare se gebruik versterk is. Ek woon al 17 jaar in verskeie gasheerlande, maar ek word steeds onkant betrap. Ek het darem intussen geleer om myself dadelik te korrigeer en te verduidelik hoekom ek gesê het wat ek gesê het.

Dit neem meer as twee maande om ‘n gedragspatroon te verander. Miskien moet ons almal meer bedag wees op hoe ons simpatie of empatie uitdruk. Hier is ‘n paar voorbeelde om in te oefen:

  1. I am so sorry to hear it. Or: I am so sorry for your loss. It must be tough for you.
  2. You poor thing. Are you feeling unwell?
  3. Bless you. Or: Bless your heart.
  4. My deepest sympathies.
  5. I am here if you need me.
  6. Oh no, that is awful. Or: Oh no, that is terrible.
  7. My heart is breaking for you.
  8. I am so sorry you are going through this.

Kom ons hou op om mekaar te verneder en wees vriendeliker en meer empaties teenoor ander en onsself. Ons het meer as genoeg struikelblokke om te oorkom op ons migrasiereise. Kom ons vermy vernedering!


Het jy ondersteuning nodig op jou migrasiereis?

Kontak Hendrika Jooste – The Migrant Whisperer, by www.facebook.com/themigrantwhisperer of besoek haar webtuiste by www.migrantwhisperer.com.


Hendrika Jooste en Robyn Vogels het saam ’n boek geskryf vir Suid-Afrikaanse migrante:

Your D.I.Y. move guide to Australia: The South African guide.
Jy kan met hulle kontak maak by www.yourmoveguide.com.

Similar Posts