Die immigrasiereise van ’n gerooktevarkboudresep

13/12/2022

Deur Carina Bosman

Dit is moeilik om jouself in te dink hoe op dees aarde jy vir vier mense gaan Kersete voorberei, as die meeste van jou 30+ jare se Kersfeeste uit oorvol, amper-gebukkende kamptafels bestaan het. Somerkersfeeste in Stilbaai se karavaanpark WAS altyd gerookte varkboud, doeksag lamsboud in die swartpot, ’n koue kerriehoenderdis, beestong en mosterdsous, soutvleis … en ’n tikkie “groenigheid” wat enigiets kon wees van slaphakskeentjies, soetpampoen tot lagieslaai. Die spyskaart het oë laat skrefies trek … soveel so dat nagereg uitgeskuif is tot ná rustyd. Die verskeidenheid soetighede sou enige diabeet onderkry en kinders laat bontspring soos wafferse bergbokke.  

Die magdom kos was hopeloos te veel vir die paar gesinne wat saam gefees het, soveel so dat mens ’n week lank oorskiet uit die karavaan se arsenaal Tupper- en leë roomysbakke moes opdien. Ook maar beter dat al wat ’n mens wat dalk alleen gelyk het op Kersfees, genooi is of ’n bak kos in die hand gestop is.

Die Oktoberdag toe dié ma, gebreekte voet en al (haar een en ’n halfjarige vasgegespe op die rug en driejarige klouend aan die broekspant, kompleet met gerookte varkboudresep gestoor vir ingeval) die oewers van Dubai se poorte oorsteek, het sy geweet dat die kamptafelfeeste vir altyd vasgesmelt tussen die hart se are sou wees.

Daardie jaar se eerste immigrasie-Kersfees was besonders, nie net omdat ons twee feeste moes hou aangesien die pa die pot aan die kook moes hou en nie saam kon seevakansie hou nie, maar omdat die ma moes kook vir vier, nie veertig nie!

Ná ’n sweterige soektog agter spesiale skuifdeure is die gerookte varkboud gevind en verslind.

’n Jaar later kry ons seun, ’n Jamie Oliver-aanhanger, ’n blink plan. Marokkaanse lamskouer moet die varkboud na die Kerstafel vergesel. Kompleet met vars wortel, lemoensap, kruisementblare en granaatpitte! So begin die angs van Tupperbak-oorskiet van voor af … maar ons skik toe op ’n kleine lam en boud.

Daardie Kersfees smul Ouma en Oupa, wat gewoond was aan kamptafel-Kersfeeste, heerlik saam aan die fees in Marokkaanse/SA-styl … en o, ja … Italiaans vir nagereg, want niemand was lus vir koffie-geit.

Die mengelmoes-Kersfees word toe in jaar nommer drie herhaal, vreemde wortelslaai en al.

In jaar vier verhuis die varkboudresep na die sneeubedekte Finland en vertel sy eie verhaal. Ons land daar met vier tasse in ’n nat November. Die tydelike woonstel het ’n hand-draadklitser, middelslag pot en ’n effense mengbak.

“Wat maak ons dan vir Kersfees?” wil die 7-jarige toe weet. “Varkboud, Ma?” O, hel weet … ja … hoe dan nou anders? ’n Kersete daarsonder sal nie deug nie.

Engiets “vark” en “gerook” is toe so skaars soos ons Finse woordeskat. Hulle eet die varkboud hier ongerook en ENORM! Ná ’n soektog kry ons oplaas ’n baba- gerookte varkie. Die varkboud is gaar gekry in ’n geprakseerde foeliebesigheid. Die draadklitser is beurtelings ingespan om die eierwitte tot op stywepuntstadium te kry. Ook maar stilweg geslurp aan die papperasie van ’n Tiramisu-eindproduk (ons moes dalk maar strooitjies gebruik het).

Ons het toe wel daardie Kersfees die soveelste fees aan ’n vreemde tafel gevier, met ’n bekende resep … en die saligheid van samesyn en dankbaarheid.

Amper- Kersfeesgroete

Carina Bosman

Carina-hulle woon tans in Finland en vier hierdie jaar hul tweede Kersfees in die sneeu. Voor dit het hulle drie jaar in Dubai gebly. Ná twee immigrasies kan hulle getuig van moedhou, fees as daar gefees moet word en hoe om die lewe ten volle te benut! 

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

LEES OOK: Interessante Kersgewoontes en tradisies in Ierland

Hoe het jy oor AfriForum Wereldwyd te hore gekom?

Naam en van
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Meer artikels deur