Dít is hoekom ons 31 Mei nooit sal vergeet

Van 31 Mei 1652 – die eerste dag waarop ’n inwoner aan die suidpunt van Afrika skriftelik oor die dag berig het, weet ons net dat ’n sterk noordwestelike wind gewaai het en die skip, ‘t Hoff van Zeelant dus nie uitgevaar het nie. Só is aangeteken in die dagregister van Jan van Riebeeck.

Spring die kalender 185 jaar verder, vind ons Louis Tregardt besig om sy dagboek op te dateer op 31 Mei 1837 by ’n soutpan in die omgewing van die Soutpansberge. Hy noem dat ’n koei die vorige dag gekalf het, lede van sy groep Voortrekkers gaan as brand het (as is onder meer gebruik om seep te kook) en dat ander gaan jag het, maar sonder sukses. Tregardt en die groep saam met hom het na vele ontberinge in die volgende jaar Delagoabaai (vandag Maputo) bereik. Twintig lede van die groep, insluitend sy vrou en later Tregardt self is daar oorlede. Op haar sterfdag, 1 Mei 1838, skryf hy: “My liefste en dierbare pand word vir ewig van my weggeneem!”

Spring ons weer 64 jaar verder na 1902, is dit ook ’n droewige toneel. Die Vrede van Vereeniging is onderteken op 31 Mei, die Anglo-Boereoorlog is verby en die bittereinders moet aanvaar dat Brittanje die stryd gewen het. Die nuus kry ’n groep burgers, waaronder die digter Jan F.E. Celliers, eers op 6 Junie 1902. Die oomblik is so oorweldigend, dat hy nie die besonderhede kan aanteken nie, maar op 17 Julie skraap hy die moed bymekaar en skryf dat sy makkers en hy steeds tot op daardie oomblik geglo het dat daar dalk ’n soort oorwinning sou wees. Hulle het gerugte oor ontwapening gehoor, maar hulle nie daaraan gesteur nie. So ’n soort vrede sal ’n man soos Generaal (Koos) De la Rey nooit onderteken nie, het hulle mekaar getroos. Hulle het na Doornkom vertrek om te hoor wat gebeur het. Voor hulle daarheen weg is, het hulle selfs vreugdeskote geskiet en grappies vertel. Daar aangekom, word die slegte nuus bevestig. Celliers gaan na die generaal en vra hy wil uit De la Rey se eie mond hoor of die stories oor ontwapening en die einde van die Boererepublieke waar is. “’n Swyende kopknik, ’n half gemompelde bevestiging, en nou begryp ek sonder twyfel die vreeslike, grootte waarheid. Ek draai weg van die generaal en staan ’n oomblik asof ek versteen het, huilend, met ’n pyn in my kop …”

Handtekeninge op die Vrede van Vereeniging

Op 31 Mei 1961 is die gemoedere heel anders – Suid-Afrika het ’n Republiek geword, uiteindelik vry van Britse oorheersing.

Hierdie weergawes van oomblikke op dieselfde datum deur die eeue in die verhaal van Afrikaners, weerspieël die aard van geskiedenis. Dit loop in golwende kurwes van begin, groei en hoogtepunte, maar dan weer agteruitgang en laagtepunte. Dit bly nooit staties nie. Geseënd is diegene wat deel van die opgang en bloei is. Ons voel deernis met dié wat die afdraandes beleef. Vir hulle bly die hoop dat die laagtepunte nie die punt aan die einde van die verhaal gaan wees nie, maar dat dit bloot ’n ruspunt, ’n komma is voor die kurwe weer opwaarts draai.

Ons beleef moeilike en onsekere tye, maar vir Van Riebeeck, alleen en verantwoordelik op ’n vreemde en onvriendelike kontinent, vir Tregardt aan die einde van ’n droom, vir Celliers wat na vele ontberinge ’n bitter neerlaag moes aanvaar, was dit nie anders nie. Tog het hulle aanhou bou aan die fondamente waarop ons vandag staan. Ons roeping bestaan daaruit, soos Paul Kruger tereg gesê het, om nie by die laagtepunte vas te steek nie, maar die mooi uit die verlede te neem en daarop voort te bou, ook beginnende vandag, 31 Mei 2022.

Hierdie artikel het oorspronklik op Forum Nuus verskryn.

Similar Posts