Herinner my

Deur Kirsten Mocke

Die Kalahari-son roep my naam, maar steeds bly ek staan in die bewolkte kombuis. Nog ’n donker bewolkte dag nes gister en die dag voor hom. ’n Verlate traan loop saggies oor my wang en ek klou stywer aan my koppie tee. Rooibos. Ek herinner myself waarom ek hier staan … hier alleen staan in ’n land vol vreemdes. Ek draai my gesig sodat niemand die trane kan sien nie.

Ek sien in my verbeelding die kinders op die grasperk. Modderdiep in hulle kleurvolle waterdigte stewels. Glimlaggies breed. Glimlaggies veilig. Met ’n handjie wink hulle my na buite en ek neem ’n tree uit in die koue. Die wind slaan my asem weg en ek trek my serp stywer om my nek. “Kyk, Mamma!” roep hulle opgewonde terwyl hulle op en af in die waterpoeletjies spring. Skril laggies kom uit hulle bors. Geen bekommernisse nie.

Ek herinner myself weer hoekom ek hier staan. Hier in die koue kombuis met ’n louwarm koppie tee. Ek vryf die laaste traan van my wang af en loop na die voordeur. Waai vir die buurman waar hy met sy hondjie stap. ’n Wildvreemdeling wat my daagliks groet met ’n glimlag. Ek trek die voordeur agter my toe en hardloop die twee treë na my motor. So begin nog ’n dag in die bewolkte, nat land.

Die Kalahari-son roep sag my naam. Sien jou gou weer, my ou maat.

Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Ierland

Similar Posts