Interessante Kersgewoontes en tradisies in Ierland

Deur Kirsten Mocke

’n Interessante Kersgewoonte in Ierland is die tradisie waar kerse in jou huis se venster geplaas word. Volgens Google is die kers ’n teken van gasvryheid.

Geniet jy steeds ’n tradisionele Suid-Afrikaanse feesmaal of probeer jy nuwe disse?

Ons geniet die tradisionele Suid-Afrikaanse feesmaal op Kersfees. Ek is mal oor al die poedings en soetgoed. Ek het klaar my bestelling geplaas by ’n vrou wat Suid-Afrikaanse lekkernye maak en ons laai op 23 Desember ons melktert, malvapoeding en koeksisters op.

Baie mense in Ierland koop ’n kalkoen vir hulle Kersete en geniet dit saam met ’n vulsel (stuffing). Die vulsel bestaan uit speserye en broodkrummels. Persoonlik verkies ek ’n stukkie skaapboud.

Gekruide wyn (“mulled wine”) of warm whiskey is ook ’n lekkerny om tydens Kerstyd te geniet.

Mooi Kersliggies in die buurt

Ons buurman het juis verlede naweek sy Kersliggies aangesit en my Kersboom was al teen einde November op. Ek dink dis nooit te vroeg om Kersfees te begin vier nie en die mooi liggies en atmosfeer is aansteeklik.

Die atmosfeer is veral broodnodig vir ons Suid-Afrikaners wat sukkel met die koue, donker wintersdae.

Ons het verlede naweek ons eerste Kersmark vir die seisoen besoek en dit was ’n pragtige mark met meer as 150 verskaffers. Gewoonlik is Kersmarkte klein in Ierland, ons wou dus nie die kans laat verbyglip om ’n groot mark te besoek nie. Daar was ’n groot verskeidenheid stalletjies – alles van gekruide wyn, antieke meubels, houtdekor en verskillende kosse.

LEES OOK: Kersfees in Viëtnam

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za.

Similar Posts