Jou gids tot mamma-word in Australië

Deur Jeannie van Zyl

Die gesondheidsorgstelsel van ’n land is van uiterste belang vir sy inwoners. Vir Suid-Afrikaanse ekspats in Australië, en veral vir swanger vroue, is dit belangrik om te verstaan hoe die Australiese gesondheidsorgstelsel vir hulle kan werk.

Indien jy ’n toekomstige mamma is wat na Australië verhuis het, bied ons jou hierdie artikel as gids tot ma-wees met die oog daarop om jou ’n mate van gemoedsrus te gee.

Ons verskaf inligting oor die verskillende gesondheidsorgstelsels wat die Australiese regering vir permanente inwoners en burgers bied, en ons fokus spesifiek op swangerskap, kraamverlof en nageboortesorg.

Gesondheidsorg vir mammas in Australië

Vir mammas en toekomstige mammas is hoëgehalte- mediese sorg van ’n prioriteit. Die mediese stelsel in Australië lyk baie anders as in Suid-Afrika en dus is dit te verstane dat jy vrae het. Kom ons ondersoek al die opsies wat jy tot jou beskikking het.

Privaat sorg op ʼn tydelike visum

Mediese sorg in Australië word in twee stelsels verdeel: private en openbare sorg. Vir die meeste mense met tydelike werkspermitte is private sorg die enigste opsie. 

Private sorg beteken dat jy geen dekking van die regering ontvang nie en uit jou eie sak of deur ’n mediese fonds vir jou behandeling moet betaal. Private sorg bring ’n rits uitgawes mee. Boonop het die meeste mediese fondse in Australië ’n jaar lange wagperiode, wat beteken dat jy ’n jaar moet wag om oor te skakel na ’n plan wat swangerskapsdekking insluit, anders betaal jy nog meer. (Daar is wel mense wat suksesvol met hul private mediese fonds kon onderhandel om die wagperiode te laat wegval.)

Die staatstelsel vir Australiese burgers

Indien jy ’n permanente inwoner van Australië of ’n amptelike Australiese burger is of ’n ander kwalifiserende visum het, is jy geregtig op Medicare, die regering se mediese skema. Jy ontvang dus gratis behandeling in die openbare stelsel, maar jou ultraklankskanderings en genetiese toetse word slegs gedeeltelik daardeur gedek.

Swangerskap in die openbare stelsel

Sodra jy uitvind dat jy swanger is, kan jy ’n afspraak met jou huisdokter maak. Gewoonlik verwys hulle jou dan vir bloedtoetse om die swangerskap te bevestig en gee jou ook ’n verwysing vir jou eerste ultraklankskandering. Dié skandering word op ongeveer sewe of agt weke van swangerskap gedoen om die geskatte geboortedatum vas te stel. Die datum word volgens jou eerste bloedtoetse se hormoontelling geskat.

Die presiese sorgmodelle verskil van streek tot streek, maar gewoonlik kan jy ná die eerste ultraklankskandering weer jou huisdokter gaan spreek om die resultate te bespreek en die regte hospitaal in jou omgewing te kies. Jy kontak dan die hospitaal en hulle sal jou help om jou swangerskap te registreer. Die huisdokter sal jou ook inlig oor en die nodige verwysings gee vir verdere skanderings, bloedtoetse, genetiese toetse, en so meer wat gedoen moet word wanneer jy 12 weke swanger is.

Die meeste vroue met laerisikoswangerskappe spreek ’n vroedvrou by die hospitaal. Die eerste afspraak is gewoonlik ’n paar weke ná jou 12 weke-toetse en kan telefonies wees. Die vroedvrou sal al jou dokumentasie, insluitend jou bloedtoetse en skanderings, deurgaan, en jou mediese geskiedenis met jou bespreek. Tydens die volgende afspraak sal jy die vroedvrou persoonlik ontmoet en sy sal dan jou geestesgesondheid evalueer om te bepaal of jy bykomende ondersteuning benodig tydens jou swangerskap.

Tydens jou eerste “booking in”-afspraak sal julle ’n swangerskapsorgmodel kies. Afhangende van die hospitaal sal jy byvoorbeeld kan kies tussen ’n vroedvrou, gedeelde sorg deur die hospitaal en jou huisdokter, en sorg deur ’n privaat verloskundige by die staatshospitaal. Indien jy die standaardsorgopsie met ’n vroedvrou kies, behoort jy op min of meer 20, 28, 32, 36, 38 en 40 weke afsprake met jou vroedvrou te hê. Indien jy verby jou baba se geskatte geboortedatum gaan sonder om in kraam in te gaan, word ekstra afsprake gereël en opsies bespreek.

Vir die meeste ongekompliseerde swangerskappe word die laaste ultraklankskandering op 20 weke gedoen. Jy word ook op 20 weke getoets vir swangerskap-diabetes en ondergaan nader aan die geboorte onder andere ’n toets vir bakteriële infeksie in die geboortekanaal.

In geval van ’n hoërisikoswangerskap word jy na ’n dokter verwys, addisionele afsprake word gemaak en addisionele skanderings gedoen. Jy kan ook verwys word na spesialiste wat dikwels by die staatshospitaal en in ’n privaat praktyk praktiseer. As jy Medicare het, dek dit al die kostes.

Lees gerus meer oor die verskillende swangerskapsorgmodelle in Australië se private en openbare stelsels en wat Medicare dek.

Hoe werk die kraamproses?

In Australië gaan dinge oor die algemeen hul natuurlike gang. Die vroedvroue en ander mediese personeel by die hospitale is goed opgelei, baie bekwaam en ervare met babas vang. Mammas en babas is in goeie hande! Jy het ook heelwat pynverligtingsopsies tydens die kraamproses.

Indien die mediese span meen dat dit beter sal wees om die geboortedatum te vervroeg, word induksies algemeen aanbeveel, maar in sekere gevalle word ’n keisersnee vooraf beplan. Afhangende van die risiko word verskillende benaderings met brugbabas en tweelinge se geboortes gevolg.

Onthou altyd dat die medici bloot aanbevelings maak op grond van beskikbare data en hul risiko-gebaseerde benadering. Dit is belangrik dat jy ingelig is, vrae vra en jou keuses op feite baseer.

Jou baba is gebore. Wat nou?

Jy het ’n pragtige babatjie! Wanneer jy en jou baba ontslaan word, kry jou baba ’n boek waarin al sy of haar mediese rekords aangeteken word. Jy sal ook by die hospitaal vorms kry wat jy moet gebruik om jou baba aanlyn te registreer. As jy ’n permanente inwoner of Australiese burger is, kan jy jou baba tydens die registrasie op jou Medicare-kaart byvoeg en aansoek doen vir Centrelink se betaalde kraamverlofsubsidie. Indien jy ’n permanente inwoner of Australiese burger is, verkry jou baba met geboorte outomaties burgerskap.

Kraamverlof

In Australië is daar vir baie kwalifiserende ouers kraamverlofondersteuning van die regering en hul werkgewer se kant af.

  • Groot, progressiewe maatskappye het dikwels uitstekende kraamverlofbeleide (“parental leave”) wat selfs pappas en aanneemouers ewe goed dek.
  • Centrelink gee 20 weke betaalde kraamverlof bykomend tot werkgewers se kraamverlofvoordele. Ongelukkig het inwoners met tydelike visums en diegene wat nog nie twee jaar lank ’n visum vir permanente inwoners het nie geen toegang tot die staat se voordele nie.
  • Selfs al betaal jou werk nie vir jou kraamverlof nie, is mammas in Australië volgens Fair Work geregtig op 12 maande se onbetaalde kraamverlof sonder dat jy jou werk verloor, en jy kan ’n verdere 12 maande aanvra.

Nasorg en ondersteuning ná geboorte

In Australië word nageboortesorg geprioritiseer. Vir die eerste 14 dae ná jou baba se geboorte is julle steeds onder hospitaalsorg. Die openbare stelsel bepaal dat jou vroedvrou jou en jou nuwe baba by jul huis moet besoek en julle ondersteun terwyl julle aanpas. Daar is ook verskeie hulplyne wat jy kan skakel indien jy uitdagings beleef (kyk skakels hier onder).

Ná die 14 dae word jy aan die gemeenskap se gesinsgesondheidstelsel oorhandig. Daar is geskeduleerde besoeke (op ongeveer 4 en 6 weke, 4, 6, 12 en 18 maande, en 3- en 4-jarige ouderdom, afhangende van jou staat) waartydens opgeleide gesinsgesondheidsusters jou kind se ontwikkeling assesseer en rekords opdateer. Hulle kyk na dinge soos groei, sig, gehoor, spraak, motoriese vaardighede, slaap, eet, en hoe dit met die kind en gesin gaan. Die susters kan jou waar nodig na spesialiste verwys. Jou baba se inentings word deur julle huisdokter gedoen.

Gesinsgesondheidsentrums reg oor Australië staan mammas verder deur middel van georganiseerde mammagroepies by. Die meeste sentrums nooi mammas met babas onder 12 weke om groepsessies by te woon wat deur ’n gesinsgesondheidsuster gefasiliteer word. Hier het mammas die geleentheid om ander mammas te ontmoet en hul ervarings te deel, vrae te vra en nuwe vriende te maak. Baie groepies hou vir maande of jare kontak met mekaar.

Lees meer!

Vir gratis ondersteuning rakende jou geestesgesondheid ná geboorte, babasorg, borsvoeding, en baba se slaappatrone, veiligheid, ontwikkeling en gesondheid kan jy gerus die volgende hulpbronne raadpleeg:

  1. Perinatale angs en depressie in Australië (PANDA)
  2. Karitane
  3. Tresilian
  4. Australiese borsvoedingsvereniging
  5. Swangerskap, geboorte en baba
  6. Netwerk vir kinderopvoeding – Die Australiese webblad vir ouers
  7. Voorkom allergieë

Subsidies vir dagsorg en kleuterskool

Soos jou kind ouer word, het permanente inwoners en burgers met toegang tot Centrelink dan ook toegang tot ’n kindersorgsubsidie (‟child care subsidy”) wat baie goeie finansiële ondersteuning vir kindersorg bied.

Baie mammas in Australië kies om eerder tuis te bly en self na hul kinders om te sien as wat hulle ten duurste vir dagsorg betaal. Met dagsorgkostes wat in die groot stede tot $170 per dag beloop, is dit beslis ’n ekonomiese besluit! Afrikaanse mammas wat besluit om tuis te bly, kan hulle kinders ook meer blootstelling aan hul moedertaal gee en godsdiensonderrig tuis behartig.

Slotsom

Die gesondheidsorgstelsel in Australië bied verskeie moontlikhede vir swanger vroue en ouers, en jou keuses kan ’n aansienlike invloed op jou ervaring hê. Moet egter nie oorweldig voel daar waar jy in die buiteland sit nie. Doen deeglike navorsing oor die beskikbare opsies en baseer jou besluite op jou unieke behoeftes en omstandighede. Met die regte inligting en ondersteuning kan jy jou nuwe ouerskapreis in Australië gelukkig en gesond begin.

Similar Posts