Kersfees in Skotland

Deur Marianna Lamprecht

Ek wip soos ek skrik vir die hond se skielike blaf hier langs my, en is net betyds om voordeur toe te hardloop en die briewe wat deur die posman ingegooi is, te red van haar skerp tandjies. Ja, die pos word weliswaar soos van ouds deur die posgleufie in die voordeur gegooi … ’n handvol Kerskaartjies. In die sitkamer word kleurvolle toue gespan en die kaartjies hang daar soos vlagversierings. Buite al die supermarkte staan Kersboompies en wag vir huise. Ons Kersboom staan reeds sedert die begin van Desember op sy plek in die hoek, getooi in alles wat kleurvol en blink is. 

Elke stad en groot dorp het ’n Kersmark waar die mooiste goed te koop is. Houthuisies met eetgoed en ander ware van regoor die wêreld is dig teen mekaar gepak. Die geure, klanke, kersliggies en die gemoedelike gemaal van mense maak van dit die heerlikste ervaring. Wintertyd is dit 16:00 reeds donker en word die hele Skotland omskep in ’n sprokiesprent met kersliggies om die lamppale en bo-oor die strate gespan, in elke winkelvenster glinster dit en al wat ’n mens is, is op straat. As die sneeu wit lê, is dit ’n sprokieswêreld.

Elke dorpie het minstens twee kore, en Kerstyd sing hierdie kore oral in die land, in winkelsentrums, in kerke, tydens formele uitvoerings, net soos die geleentheid hom voordoen. Dit is ook die tyd vir Carols by Candlelight, en afgesien van die kerkdienste wat daarvoor gehou word, word dit ook in die openbaar gedoen. Dit laat my dink aan my kleintyd waar ons agterop groot trokke deur ons dorpies se strate gery en Kersliedjies gesing het.

Kersdag self is eweneens ’n groot heerlikheid. Oukersdag skop af met die kinderdiens laatmiddag. Cristingle, word die diens genoem, en draai om die verspreiding van die evangelie rondom die wêreld. Elke kind kry ’n lemoen wat die aarde simboliseer, ’n stukkie rooi lint om rondom die lemoen te draai, wat dui op die bloed van Jesus wat gestort is, vier stokkies met lekkers wat in die vier uithoeke gedruk word om te wys dit word Suid, Noord, Wes en Oos verkondig, en heel laaste ’n kersie wat bo ingedruk en aangesteek word om die lig van die boodskap uit te dra.

Oukersaand word daar as familie gekuier rondom heerlike kaasborde en snoeperye en die kinders gaan strooi kos buite op die grasperke vir Kersvader se takbokke. Die takbokkos word oral verkoop vir hierdie spesiale aand. Voor slaaptyd word daar vir Kersvader ook ’n bordjie eetgoed uitgesit langs die boom. Elfuur gaan almal vir ’n middernagdiens, wat duur tot ná twaalf, en so word Kersdag ingewy. 

Kersoggend is daar nie tyd vir laat slaap nie, want reeds voor die eerste koffie word die Kersfeeskouse al leeggemaak en as ma en pa ook mooi wakker is en almal gewapen is met koffie, is dit tyd vir die groot oopmaak van geskenke. Halfelf is die Kersdiens, met die kerk stampvol om te luister na die wonderlike rede vir ons viering van hierdie dag. 

Soos in ander lande is daar die tradisionele Kersmaal, gewoonlik kalkoen en skaapboud of hoender, heerlike groente en absoluut altyd ’n poeding. Kersdag is ’n heerlike sorgvrye dag van rus en kuier en mekaar geniet. Ook die dag ná Kersfees is gewoonlik ’n rustige kuierdag met familie en vriende, en ek glo ook ’n poging om al die eetgoed wat oorgebly het, klaar geëet te kry!

As ek so lees deur my vertelling van my eie belewenis, dan besef ek opnuut hoe geseënd ons is in die uitlewing van ons geloof.

Similar Posts