Migrasie met kinders: die moeilike en maklike dinge om in gedagte te hou

Deur dr. Chamonix Terblanche

Om na ’n nuwe land te migreer, met alles wat aan die begin so onbekend is, is een van die moeilikste en deurslaggewendste stappe wat ’n mens kan neem. Jy is bes moontlik gewoond aan die stres in jou werksplek en om altyd te moet aanpas by die landskap om jou wat voortdurend verander, sodat jy kan oorleef. Maar jy is baie beter toegerus om hierdie lewensveranderende besluite te deurstaan as jou kinders – of is jy?

Vir ons, wie weggeskeur word van familie en alles wat vir ons bekend is, kan dit terselfdertyd angswekkend en oorweldigend wees as ons rou oor dit wat ons agtergelaat het. As ouers is ons verantwoordelik vir die besluite wat ons vir ons kinders maak, en die rede hoekom mense oorsee verhuis is dikwels omdat hulle vir hul kinders ’n veilige en beskermde toekoms wil bied, volop met geleenthede.

Ons besef egter nie dat ons kinders baie meer emosioneel veerkragtig is as wat ons dink nie. Toenemende globalisering, veral ná die pandemie, het daartoe gelei dat ons kinders nou as derdegenerasiekinders geklassifiseer word.

As jy dus dink aan die vrese en die dinge wat jou aangespoor het om te verhuis, sal jy ongetwyfeld uiteenlopende gedagtes hê oor jou kinders, oor hoe hulle dinge baasraak en of julle op die regte tyd in julle en hul lewens verhuis het.

Daar is ongelukkig nie een regte antwoord op hierdie vrae nie (ek wens daar was!) en jou persoonlike situasie sal altyd verskil van ander mense om jou. ’n Mens vergeet egter maklik dat daar so baie ander gesinne is wat dit al reggekry het en ons onderskat hoe sterk ons kinders is, ongeag hul ouderdom.

Soos wat die proses verloop sal julle uit ander mense se ervarings kan leer. Hoe meer tyd julle daaraan bestee om jul trek te beplan en die kinders, – ongeag hul ouderdomme – by daardie planne in te sluit, hoe beter is die kans dat julle sukses sal behaal. Dit is belangrik dat hulle sal verstaan hoekom julle oorsee verhuis.

Oor die algemeen, en veral omdat die afsny-ouderdom vir vaardigheidsvisums gewoonlik 45 is, is daar ’n neiging dat ouers met jonger kinders veel eerder migreer as ouers met tieners. Omdat Australië egter tans ’n vaardigheidstekortkrisis ervaar, is daar baie “ouer” ouers – met tienerkinders – wie oorgaan Australië toe.

Ek het altyd ervaar dat jonger kinders meer aanpasbaar en oop is vir veranderinge, en dat dit gevolglik makliker is om te trek met hulle, veral as dit na ’n land is waar ons moedertaal nie gepraat word nie. Hoe jonger die kinders is, hoe makliker blyk dit vir hulle te wees om aan te pas en ’n nuwe taal aan te leer, veral as hulle hulself ten volle daarop toespits.

Waar dit kom by moeders met jonger kinders is dit asof hulle dit makliker regkry om in te pas, aan te pas en bande te smee – of dit nou by die plaaslike park of speelarea of selfs verjaarsdagpartytjies is. Ma’s met ouer kinders het minder geleenthede vir interaksie. Dis veral van toepassing as ’n mens ouerbetrokkenheid in ag neem, wat baie meer moeite verg as ’n mens met jou ouer kinders probeer integreer.

Ouer kinders bied dalk ook meer weerstand teen die idee van migrasie omdat hulle reeds gevestig is in hul skoolomgewing, reeds baie afhanklik is van die sosiale groep waarvan hulle deel is en dit alles sal moet agterlaat. Hulle het ook meer uitdagings as dit kom by hul akademiese aanpassing. Aan die ander kant kan hulle ook dalk beter begrip vir verskillende kulture hê, hulle neem baie meer in en gevolglik kan hulle baie meer baat vind uit die hele ervaring.

Wanneer dit by skole kom, is Australië grootliks goed toegerus om ondersteuning aan nuwe studente te bied en hulle doen in die meeste gevalle hul bes om sulke leerders te akkommodeer, veral as Engels nie jou kind se eerste taal is nie.

Dit is ook belangrik om te onthou dat ons kinders ons voorbeeld volg en dat ons hulle kan help om aan te pas deur vir hulle ’n emosioneel stabiele en koesterende omgewing te bied. Die huisomgewing moet ’n toevlugsoord wees vir die kind om te kan floreer, ’n plek waar hulle beskermd sal voel en wat hulle sal toelaat om uit te gaan en te veg in die wêreld, en waarheen hulle kan terugkeer en herlaai. In die meeste gevalle is dit net ’n kwessie van tyd – genoeg tyd om ingeburger te word.

Soos wat hulle meer tyd in hul nuwe omgewing deurbring, gaan hulle al meer goeie dinge in hul nuwe tuiste raaksien en gevolglik die redes en voordele van die hervestiging. Gun hulle en jouself die aanpassingstyd. Probeer om tydens hierdie tyd nie te veel verwagtinge van hulle te hê nie, veral wat hul akademie aanbetref (verwagtinge wat ons inherent mag hê omdat ons as Suid-Afrikaners baie gedrewe en hardwerkend is).

Gee jou kinders die ruimte wat hulle nodig het om aan te pas en in te pas. As Suid-Afrikaners word dit van jongs af (soms al op voorskoolse vlak) by ons ingeprent dat ons moet presteer, dit is dus belangrik om in ag te neem dat die kultuur, waardes en etos in Australië effens anders mag wees.

Betrokkenheid by ’n kerk, stokperdjie of sport kan ’n vangnet wees vir die uitdagings waarvoor jy te staan gaan kom, nie net omdat die ooreenkomste jou aan die begin gaan help om jou waardes te bevestig en as anker te dien nie, maar ook om jou te help om wortel te skiet terwyl jy vasstel waar jy inpas.

Omarm jou kultuur en hou vas aan jou identiteit (van wie jy is, jou erfenis en jou waardes), want dit is baie belangrik as dit kom by kulturele integrasie.

Hou vas aan die positiewe sentimente oor wie jy is en hoekom jy die skuif gemaak het sonder om jou identiteit op te gee, sodat dit deursypel na jou kinders toe. Moedig dapperheid en vasberadenheid aan in jou kinders deur vir hulle die geleentheid te gee om hul uithouvermoë en volharding te toets, sonder om te vinnig moed op te gee al raak die uitdagings erg.

Moedig hulle aan om nuwe dinge te probeer en uit te gaan in die wêreld, terwyl jy aan hulle die nodige ondersteuning bied. Staan langs hulle en laat hulle toe om een tree op ’n slag te neem. ’n Kind se vermoë om uitdagings te oorkom is ’n bydraende faktor tot hul toekomstige sukses in die lewe. Deur te trek gee jy dus nie net vir jou kind beter geleenthede nie, maar jy gee hulle ook die kans om emosioneel te groei en uithouvermoë te kweek wat hulle later in hul lewens gaan nodig hê, wat hulle die kans sal gee om te floreer en suksesvol te wees.

In Episode 115 op Chamonix TV het ek met ’n paar Suid-Afrikaanse migrante gesels wat hul ervaring van emigrasie met kinders van verskillende ouderdomme gedeel het. Dr. Gerda Scholtz, ’n gekwalifiseerde migrasielewensafrigter, vertel hoe dit was om oor te trek met ’n 16-jarige dogter. Vonne Lombard het haar twee jaar gelede in Sydney gevestig met twee kinders wat nou 9 en 11 jaar oud is, en Marlize Pretorius, ’n skoolleraar, se kinders was jong kleuters toe hulle tien jaar gelede hierheen verhuis het.

Similar Posts