’n Klippie in die oseaan

Deur Adriaan Laubscher

Die son is stadig besig om op te kom en die sonstrale speel tussen die boomtakke deur. Ek was vroeg op en die koue lug van ’n Britse wintersoggend raak aan my gesig terwyl die wiele van my fiets rol oor die herfsblaretapyt op die paadjie tussen die bome.

My kop is gevul met soveel rondspringgedagtes. Ek sit die klein wit oorfoontjie in my een oor onder die mus en valhelm wat ek aanhet. Ek druk “Afrikaans” op my speellys. Ek verlang na my mense, en die woorde van ou bekende liedjies is amper soos die koesterende arm van ’n  goeie vriend om my skouer.

Die paadjie neem my tot langs die kus en ek voel hoe my bene begin brand van die oefening. Ek trap nog ’n bietjie harder, want dit hou my gedagtes gefokus op die kronkelpaadjie voor my.

Die oranje gloed van die son tref die klippiestrand en die woorde van “Lisa se Klavier” weerklink in my oorfone. Ek dink min mense sal dit op hulle oefenliedjies-speellys sit, maar buiten oefen, kom verlang en genees ek so bietjie vanoggend op my fiets.

Hier onder my valhelm langs die see in die oopte kan ek my gedagtes vryheid gee. Ek sing saam in my taal en raak bewus van die opbou van emosies in my bors. Ek probeer nie, dit gebeur sommer spontaan. Dis oukei, dis net verlang, maar soms is dit diep, amper seermaak-verlang.

Ek ry stadiger en stop om meer van die sonsopkoms in te neem. Ek kan my eie asemhaling hoor, gemeng met die klank van branders wat op die klippies ’n ander tipe ritme aan die lied in my oorfone gee. Laurika staan hier saam met my met haar strelende woorde van ’n plek ver van hier.

So ’n paar dae terug luister ek na ’n Neil Diamond-lied: “I am, I said … I’m lost between two shores … LA’s fine but it ain’t home, New York is home, but it ain’t mine no more … ” Ja, ek luister nou anders na hierdie woorde. Dit verskil dalk, hierdie wat ons nou het is meer as net “fine”, maar dis nog nie heeltemal “home” nie, maar “huis” aan die suidpunt van Afrika is dalk ook nie meer heeltemal “huis” nie.

Ek neem gou ’n foto om die oomblik te probeer vasvang. Ek glimlag en besef dat die gevegte tussen verlange en dankbaarheid seker deel van enige skuif is. Die dankbaarheidkomponent is egter belangrik. Wie sal dan wen tussen die twee … ek reken die een wat jy die meeste voed.

Die liedjie is klaar en ’n paar ander het al gespeel, maar ek kan nie eens onthou wat dit was nie. My gedagtes is by die mooi prentjie voor my. Ek sal seker ’n paar foto’s op Facebook sit en vir mense noem dat ons verlang. Ek wonder of hulle besef hoe daardie verlang soms lyk. Soms hartseer, seermaak-verlang. Soms lekker verlang deur die vertel van stories vir nuwe kennisse van ou bekende plekke en vriende.

Ek kyk af en terwyl ek daar staan, tel ek ’n klippie op en gooi dit in die oseaan. ’n Klippie van onthou en verlang en hoop. Ek wonder of my klippie in die oseaan ’n verskil sal maak.

Die dans van klippies soos die water heen en weer vloei is amper ’n bekoring. Ek dink aan my verlangdans vandag. Elke nou en dan is dit ’n liedjie se woorde, ’n reuk of ’n onwillekeurige onthou-oomblik wat die verlangdans begin. Soms lei ek die dans en soms is die verlang-emosies aan die stuur.

Ek kyk uit oor die klippiestrand en wonder oor al die verlangoomblikke van ander klippiegooiers. Hierdie is dieselfde strand waar ek en my seuntjie ons waterwip-klippiegooitegnieke kom toets. ’n Lekker verlangherinnering. Is daar dalk iemand aan die anderkant van hierdie oseaan wat dalk ’n klippie in my rigting gooi?

Soms hoef ’n mens nie op ander kontinente te bly om te verlang nie. Ek verlang dan nou die dag na my seuntjie en dit was net omdat hy die dag by die skool was. Gelukkig kan ’n mens daardie verlange effe sus met ’n stywe drukkie later die middag. Ai, maar hierdie langafstandverlange, húlle maak die seerste.

Ek staar na die pragtige prentjie voor my. Ek hoor die klanke in my oorfone en beleef die ongelooflike seëning van hier wees in hierdie oomblik van sien, hoor en ervaar … die wete dat ek geliefdes het en goeie vriende na wie ek kan verlang. Dit beteken daar was soveel mooi oomblikke. Amper soos lagplooitjies – gelukkig was daar lagoomblikke om dit te kon kry.

Ek ry verder en iemand groet vriendelik terwyl ek verbyry. “Good morning, beautiful morning isn’t it?” Ek glimlag en in my gedagtes dink ek: ja, dit is ’n pragtige oggend, maar selfs nog meer as dit – wat ’n oomblik.

Die koue wintersoggend teen my gesig, die fiets tel weer spoed op, die son wat opkom … en iewers aan die suidkus van Engeland is daar ’n Afrikaanse seun wat iewers man moes word, wat verlang soos ’n kind. Ek stuur ’n skietgebed van dankbaarheid op en met ’n glimlag ry ek verder.

Dankie vir die saamry, Laurika.

Adriaan Laubscher, sy vrou Linda en hul seun Lihan (13)

Similar Posts