’n Roudiens vir my taal

Deur Martin J. Labuschagne

Op 22 Oktober 2019 het ons Suid-Afrika finaal vaarwel moes toewens. Ons wou vir ons enigste seun, Leandro, wat al hoe meer geen toekoms in die land blyk te hê nie, beter vooruitsigte gee. My vrou, Sandra, het ’n Europese Unie-paspoort (sy is van Portugese afkoms) en ons het dit gebruik om Engeland binne te kom. Ons moes dit voor Brexit doen, want daarna sou alle vrye beweging tussen Europese Unie-lande, waarvan Brittanje natuurlik eers deel was, finaal beëindig word.

Die besluit het ons geneem nadat ons by emigrasiespesialiste advies oor emigrasie ingewin het.  Aanvanklik wou ons net weet wat ons nodig sou hê om te emigreer met die gedagte dat dit ’n langtermynprojek sou wees. Maar die advies het ons bietjie geskok toe die agent aan ons verduidelik het wat die gevolg van Brexit op alle emigrasie sou wees. Sonder my vrou se Portugese paspoort was daar eenvoudig geen moontlikheid om ons permanent in Brittanje te vestig nie.

Ons het in Mei 2019 die konsultasie gehad en ons moes op die heel laaste 31 Oktober 2019 in Brittanje wees. Dit het ons rofweg met net vyf maande gelaat om alles in plek te kry. Ons moes ons huis verkoop, ek moes bedank om my pensioen (wat tot my ontsteltenis ’n hele paar weke sou neem om uitbetaal te word) te kry, ons moes blyplek in die land soek en ’n rits ander dinge doen om gereed te wees. Dié vyf maande was seker een van die spannendste tye in my lewe gewees.

As ons nie die knoop kon deurhaak nie, was ons in ons peetjie in, want ek sou sonder werk sit, en soos almal weet het ’n wit man op nege-en-veertigjarige ouderdom maar ’n skraal kans om iewers aangestel te word.

Met harde werk en met genade van Bo, het ons dit kon doen. By ons aankoms in ons nuwe land was ons albei werkloos. Gelukkig is werk hier so volop dat ek binne drie weke ná ons aankoms ’n werk by ’n bank kon losslaan. As prokureur kon ek nie met my regsgrade in hierdie land my regsberoep hervat nie. Maar ek wou hoeka lankal ’n loopbaanverandering gemaak het. Alles in ag geneem is ons hier finansieel beter af as in Suid-Afrika.

Die Engelse is baie vriendelike en verwelkomende mense. Die land het ons tot dusver baie, baie goed behandel, waarvoor ons dankbaar is. Tot dusver het ons nie enige diskriminasie – behoudens ’n paar enkele gevalle – beleef nie. Rasseverhoudinge tussen wit en swart is hier ook baie beter, alhoewel Black Lives Matter en “woke”-politiek uiters verdelend begin word.

Dit was die geskiedenis van ons emigrasie, maar my ervaring daarvan is egter ’n ander storie en ek kan dit met een woord saamvat: vervreemding.

Ons het die land waarin ons albei waarin gewortel was agtergelaat en die gevoel van vervreemding is soms oorweldigend. Die werklikheid is dat ek geen emosionele band met Brittanje het nie. Nie kultureel, taalgewys of deur afkoms nie.

Op die lang termyn sal ek maar altyd ’n vreemdeling bly totdat ek doodgaan.

Vir ons seun, Leandro, is dit egter anders. Ofskoon hy homself as (Suid-)Afrikaans beskou, begin hy stadigaan heeltemal ver-Brits. Hy het al die aksent aangeleer en die taal se uitdrukkings word nou vir hom tweede natuur. So begin hy stadigaan diep wortels in die land skiet en ek moet nou die moontlikheid van ’n Afrikaanse nageslag adieu toewens.

Ek beny Afrikaners wat agterbly daarvoor dat hulle deel voel van ’n plek en ’n geskiedenis wat ek nooit hier sal kan beleef nie. En, soos ons weet, gemeenskapsgebondenheid is lewensnoodsaaklik vir ’n gelukkige lewe. Daarom moes ek met my emigrasie, ter wille van ons kind, ’n stuk van my geluk inboet.

Hiermee wil ek nie mense probeer afraai om die land te verlaat nie, maar ek wil net hê dat mense, veral Afrikaners, ’n ingeligte keuse moet maak. Brittanje is ’n land met hope moontlikhede en ten spyte van hulle probleme, is dit nog steeds ekonomies, veiligheidsgewys en toekomsgerig ’n beter keuse as Suid-Afrika.

Maar weet net dat jy, as eerste generasie emigrant, altyd ontworteld sal voel. En dit is vir my die hartseerste deel daarvan.

Similar Posts