’n Winterwonderland-Kersfees in Switserland

Deur Michelle Vosloo

Terwyl die begin van Desember ’n vreugdevolle tyd is waartydens ons vol verwagting uitsien na ’n see- of bosvakansie en Kerslysies wat deur die kleinspan opgestel word, hou dié tyd van die jaar ook diep verlange en nostalgie in. Met Kerstyd dink ons altyd aan die kinders en kleinkinders of die broers en susters wat aan die ander kant van die wêreld die viering op hulle eie voortsit. Ons het dié week met Michelle Vosloo gesels om te hoor hoe hulle Kersfees in Switserland vier.

Is daar interessante Kersgewoontes en -tradisies in Switserland?

Switserland vier Kersfees baie soos Suid-Afrika. Die grootste verskil is dat hulle nie so erg gekommersialiseerd is nie; alles word baie diskreet gedoen (hie-hie). So daar is mooi, maar net genoeg en niks oordadig nie. Een ding wat hulle anders doen, is om regte bome vir Kersbome te gebruik, en op 11 Januarie hou hulle ’n groot Kersboomvreugdeviering waar almal hulle kersbome verbrand en brood, kaas en glühwein geniet.

Switserland is altyd ’n winterwonderland om Kerstyd. Daar is liggies en pragtige versierings in elke dorp. Of dit nou Jesus se krip illustreer of ’n sneeuman is, almal versier en vier dié tyd. Ongelukkig is daar nou oorlog in Europa, en weens die droogte en oorlog is elektrisiteit skaars. Soos die Switserse mense se gewoonte is, beplan hulle baie goed vir hierdie tyd. Ongelukkig sal ons nie dié jaar baie Kersliggies hê nie. Die verhitting word oral op maksimum 20 grade binne gehou en alle verhitting op treinstasies en ander openbare plekke word afgeskakel om seker te maak alles kan klopdisselboom bly werk en dat hulle nie krag hoef af te sny of beurtkrag hoef toe te pas nie.

Geniet julle steeds ’n tradisionele Suid-Afrikaanse feesmaal of probeer julle nuwe disse?

Ons maak potjie! Potjie in die sneeu. So ons hou by die tradisionele, dalk net op ’n nietradisionele tyd. Een ding wat hier tradisioneel is voor Kersfees is chestnuts, of kastaiings in Afrikaans. ’n Mens sny ’n kruis in die doppie en dan kook jy hulle vir 15-20 minute in water. Daarna rooster jy hulle in die oond vir so 12 minute. Dis heerlike soet, warm, neute wat lekker is saam met wildsvleis, wat hulle ook rondom dié tyd eet en selfs in supermarkte verkoop!

Hou jy by die ou tradisionele vieringe of vier jy Kersfees op nuwe maniere?

Ons vier Kersfees op die tradisionele manier, maar elke nuwe gesin het natuurlik hulle eie tradisies. Hier vier ons Kersfees saam met vriende en ons kerkgesin die jare wat ons nie in Desember kan huis toe gaan om almal vir wie ons lief is te sien en druk nie.

Ons het ’n wonderlike kerk hier wat alles heerlik maak. Hulle hou ‘n kleuterdiens, ’n kinderdiens, Kersdiens en Kersliedere by kerslig. Die kinders is vreeslik lief vir kerk omdat hulle van kindsbeen af die liefde en lekker van Jesus ken leer. Maar soos in die res van Europa is daar baie wat ongelukkig nog nie die goeie nuus glo nie. Ek moet bysê alles in Switserland is op Christelike waardes gebou en hulle vier al die Christelike vakansiedae, selfs Hemelvaartdag.

LEES OOK: Kersfees in Sjanghai

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za.

Similar Posts