Natuurhoekie – Geliefde bosreus vind rus

Die berugte en beminde olifantbul van Pilanesberg Nasionale Park, Amarula, se oorskot is op 8 Februarie vanjaar in die park gevind. Hy was na raming 65 jaar oud en is sover vasgestel kon word, aan natuurlike oorsake dood. Afrika olifante wat in die natuur leef, word nie eintlik ouer as 70 jaar nie.

Enige internetsoektog sal heelwat beeldmateriaal oplewer van Amarula se avonture met motors. Die mees opspraakwekkende voorval het in 2011 plaasvind toe hy ’n Volkswagen Polo omgedop het. Daarna het hy redelik gereeld voertuie gekarnuffel en in die proses toeriste en hulle gidse die bewerasie gegee.

Die Pilanesberg Nasionale Park is in 1979 geproklameer. Deur ’n projek genaamd Operasie Genesis is ongeveer 6 000 wilde diere in die park hervestig. Dit het jong olifante ingesluit wat na uitdunningsaksies wees gelaat is. Om verstaanbare redes was die olifante aggressief teenoor mense en toe hele gesinsgroepe olifante later hervestig is, het die groep wesies glad nie by hulle ingeskakel nie, maar eenkant gebly. In die natuur sou ouer en groter bulle die jonger olifante dissiplineer, maar by gebrek aan sulke gesagsfigure het die groep al vreemder opgetree. Hulle het eers die ander olifante geboelie en later renosters en motors begin aanval. In die aanvalle is veertig renosters en ’n toeris dood. Daar is besluit dat volwasse olifante in die park hervestig moes word om die jongspan vas te vat. Ses groot bulle is dus in 1998 met enorme moeite van die Kruger Nasionale Park na Pilanesberg gebring – die eerste keer wat sulke groot diere hervestig is. Amarula was een van hulle. Die plan het gewerk – die jong olifante het opgehou om renosters dood te maak en voertuie was ietwat veiliger. Dit is nou tot Amarula self met motors begin speel het – darem sonder om mense ernstig te beseer. Oor wat met hulle harte en bloeddruk in die proses gebeur het, sê ons eerder niks.

Die aankondiging van sy dood deur die Pilanesberg Nasionale Park en Wildlewe Trust op Facebook het wye reaksie ontlok. Mense het beide hulle mooi en hulle skrikwekkende herinneringe aan die ou reus gedeel. Buiten sy lieflike tande, was sy stomp stert iets waaraan hy maklik uitgeken kon word.

’n Interessante feit is dat geen olifant al ooit in dié park deur stropers gedood is nie. Die jong olifante se wangedrag is ook ’n hartseer voorbeeld van hoe mense se inmenging in die natuur selfs wanneer dit met die mooiste voornemens gepaard gaan, tragiese gevolge kan hê.

Amarula het na ’n lang en vol lewe gaan rus, maar die stories oor hom sal nog lank bly voortleef.

Similar Posts