Natuurhoekie: ’n Ode aan Knakstert

Deur Alana Bailey

Soms beleef ’n mens ontmoetings met die natuur wat jou lewenslank bybly. André Christof van Two-V Productions deel so ’n belewenis van hom en sy vrou Kate met ons. Boeke in sy Op Vlerke-reeks kan van AfriForum Uitgewers bestel word en is ook weer in die winkels in ruskampe van die Nasionale Krugerwildtuin beskikbaar.

André skryf:

Twee weke gelede vertel Kate sy kon dit nie glo nie! Sy het dié oggend in die agterplaas op die terras wat na die natuurtuin toe oploop, wasgoed gaan afhaal. Op pad terug na die agterdeur, pas na sy om die hoek van die huis gekom het met die vol mandjie in haar arms, sien sy ’n blouaap, ’n ent weg voor haar naby die kombuisdeur, aan dadels wat van die bure se palmboom wat daar digby die grensmuur groei en op die plaveisel geval het, staan en vreet.

Hy gewaar haar, klim doodluiters oor die traliewerk op die muur, so asof hy haar ruimte gee, en begin rustig, met kieste vol van die vruggies geprop, aan die anderkant op die muur in die agterplaas se rigting stap.

So ’n ou man. Hy gee haar, so skramsweg, net een kyk, selfversekerd, waar hy om en by twee meter van haar af verbyloop.

Dis sý wêreld dié.

Haar eerste indruk is: hy kén die plek. Hy is grys om die oë, die gesig het merktekens daar by die bek se kant, seker van die baklei om sy trop, maar sy herken hom toe aan sy stert van jare gelede.

Ons raai hy moet nou al by die twintig jaar oud wees, of ouer. Ons het hom ’n klomp jaar gelede in sy fleur met sy fiere houding, die eerste keer hier met sy trop gesien, hy had toe al so ’n knak in die middel van die stert, ’n knop wat daar gevorm het.

Hy en sy trop was hier ’n gereelde gesig. Toe, ewe skielik, sien ons hom nie meer nie, nou, seker so agt jaar later, daag hy weer op.

Baie ouer.

Ons dog hy is alleen.

Gisteroggend vroeg maak ’n magdom apies se spelerige galop op die huis se dak ons teen sonsopkoms wakker, hier reg bokant ons, die volgende oomblik hoor ons hulle jaag mekaar na die voorkant van die huis. Nie lank nie, is hulle terug. Party spring van die palmbome af op die dak, ander kom oor die dak aangehardloop, trap vas, spring na die terras aan die agterkant van die huis.

Op die Harvey-teëldak klink dit soos donderslae. Ons staan toe nou maar op en gaan maak koffie.

Die blouapie het ’n silwergrys lyf en swart gesig, die ore en die punt van die lang stert is ewe-eens swart. Die kleur rondom die oë en op die ooglede is wit, so ook die wenkbrou-rif wat met die wange af strek. Die gesig, swart hande en voete is haarloos. Hulle is skraal gebou met lang arms en bene. Die pels op die lyf is liggrys, maar die pens-pels en die binnekante van die arms en bene is roomkleurig tot wit.

Later sien ons hulle in die agterplaas op die grasperk voor die natuurtuin kerjakker, in die bome, op die rotsbank effe hoër op, die terras duskant die rotsbank, party sit op die trappe wat daar na boontoe oploop, seker die grootste trop nog wat ons hier gesien het, kleintjies, opgeskotes, heelparty wyfies. Hier en daar hang ’n kleintjie met die pienk gesiggie, groot ore en yl haartjies aan die swart lyfie onderaan die ma se lyf, klou weerskante aan die pels vas.

Ons skat die trop moet digby die twintig wees.

Die mannetjie lê daar eenkant op die sy en rus, ’n ent regs van ’n groot essenhout boom met ’n ronde spreidende kroon met hangende takke, wat in die middel van die grasperk staan.

Na ek die venster, wat in die middelkamer oor die agterplaas uitkyk, oopgemaak het, kyk hy luiweg op, min gepla, dis sý wêreld. Toe hy opstaan, sien ons dis die mannetjie met die merktekens aan die gesig en geknakte stert wat op die grond sleep soos hy daar na ‘n nuwe lêplek in die son versit. Hy is grys om die oë en bek, nie meer sy ou rats self van toenterjare nie, maar dis sý trop, hulle is nou nét so tuis, drink water uit die voëltjiebad, meeste se wakker ogies het ons sommer al van meet af voor die venster gewaar.

Hy het hulle hier kom bekendstel, so ons kan verseker weet ons sal hulle nou met reëlmaat in die omgewing sien, veral wintermaande wanneer daar maar in die bos wyd na kos gesoek moet word.

Twee wyfies sit aan die onderkant van die trappe wat daar ágter na die tweede terras toe oploop en versorg mekaar, soek vlooitjies, dit kam met die vingertjies die pels op die ander een se rug na die eenkant toe weg, maak so ’n paadjie, dan kyk dit baie ernstig of daar nie iets te bespeur is nie.

In ’n stadium gaan lê die een wat versorg word voor die ander een wat met die knieë tussen die elmboë opgetrek sit, op die rug, die arms en bene oopgespalk, dan word die vóórkant nou weer versorg.

Op ’n hele paar plekke stoei twee tot drie met mekaar, nie net kleintjies en opgeskotes nie, maar daar is ook enkele wyfies wat meedoen, een staan bo-oor ’n kleintjie soos sy dit karnuffel. In ’n stadium hap sy die kleintjie speels aan die lyf dat dit so wriemel, nou woel die apie los, spring op, dan hardloop dit sommer ’n ent weg, die stert so reguit agter die lyf.

’n Opgeskote enetjie gaan sit na ’n wyle tussen droë blare en sulke groot viervlerkige sade op die agterent met die knieggies langs die lyf opgetrek. Nou leun sy vooroor tussen die agterbene deur, dan strek sy die armpies met oop handjies wat sy bymekaar hou voor haar bokant die grond uit, nou vee sy oor die grond na die kante toe in so ’n halfmaan tot weerskante van die lyf, daarna beloer sy eers aan die een kant, dán aan die ander kant of daar nie iets te bespeur is nie.

Later leun sy weer vooroor, strek wéér die armpies voor haar uit, dan vee sy wéér met die oop handjies oor die grond. Toe sy nou ’n slag daar iets te ete sien wat sy so óópgevee het, tel sy dit met een handjie op, sit dit in die bek, dan soek sy verder.

Nie ver van haar af nie, lê nóg ’n apie uitgestrek op ’n draad tuinstoel, een arm hang deur die opening aan die rugkant na die grond, dan pluk sy aan ’n tweede een wat onderkant haar op die gras lê.

’n Ander apie is in die middel van die grasperk aan die onderkant van die essenhoutboom agter oorhangtakke doenig, daar waar die dik stam verdeel. Dié het ons gewaar, nou speel dit ‘peek-a-boo’. Die een oomblik kom die kop agter die stam uit, beloer ons, dan trek sy dit vinnig terug, nie lank nie, beloer sy ons aan die anderkant van die stam, daarna klim dit effe hoër op, nou word die speletjie, dáár voortgesit.

Terwyl ons hulle dophou, dink ons terug aan die dae toe die mannetjie in sy fleur was, dié het nou en dan ’n jongeling getugtig, sy stempel afgedruk, ’n mens hoor dan net so ’n ontstelde skree van die kleintjie in die agterplaas.

Hy het by tye met sy trop in die groot bome in die natuurtuin aan die agterkant van die huis kom oornag, ons sien hulle dan dikwels as hulle laatmiddag deur die bome na hul slaapplek toe beweeg, meeste gebruik die telefoondraad, dit loop so op ’n streep daaroor, die sterte soos antennas in die lug. Die kleintjies loop al swaaiende, hier en daar gaan staan een eers en klou vir ’n vale, is nog té dom met die stert, dit sukkel maar om die balans te behou, die stert swaai die wêreld vol.

Ons beloer hulle dan ook wintermaande vroeg in die oggende waar hulle daar aan die voorkant in die bome en op van die huise se dakke gaan sit, die voorlywe na die son gekeer.

Een oggend vroeg sien ons Knakstert op ’n dwarstak in die top van ’n boom sit, maar seker nie ’n meter van hom af nie, sit daar ook ’n mannetjie Afrikaanse sperwer en bak, sy rugkant is blouerig grys, hy het rooibruin dwarsstrepe aan die voorkant, die rûe na mekaar gekeer, wil niks van mekaar weet nie. Knakstert lyk skoon vies, maar hulle sít.

Hy het gereeld, wanneer hulle vroegoggend hier agter was, in die essenhoutboom opgeklim, daar aan die bokant met sy forse houding gaan staan en oor die omgewing uitgekyk. “Jak-jak, jak-jak, jakke-jakke, jakke-jakke,” raas hy dan dat ’n mens hom wie weet waar kan hoor en gee kennis van sy teenwoordigheid.

Dis sý gebied.

Sý trop.

So was hy een oggend in die boom toe Kate ’n bedding daar aan die een kant met die tuinslang staan en natspuit. Sy rig in ’n stadium die spuit in sy rigting. Hy klim toe ewe kordaat na dik takke laer af, en daar gaan staan en wip hy die wenkbroue (hy lig dit, dan laat sak hy dit weer), terwyl hy die ooglede as ’n waarskuwingsbedreiging in haar rigting flits.

Ons het oor die jare verknog aan hul teenwoordigheid geraak, hulle wat so lank aan ons plesier verskaf met hul gedrag, interaksie, en ons met nuwe oë en waardering na die natuur laat kyk.

Nou hou ons hulle vanoggend dop soos die laastes koers kies die woonbuurt in om kos te gaan soek, met die ouman wat ons vlugtig beloer.

Die kyk in sy oë …

Dankie Knakstert vir jare se deel …

Mooi loop ou grote …

Sal jou mis …

Eendag …

Similar Posts