Natuurhoekie – Nog ’n asemrowende jakarandatyd byna verby …

Deur Alana Bailey

Wie raak nie nostalgies wanneer hulle Koos du Plessis die volgende woorde hoor sing nie?

Pretoria, Jakarandastad, die weer Oktobermaand …

Jakarandas (Jacaranda mimosifolia) is ’n ingevoerde spesie in Suid-Afrika, wat tot onkruid en indringerplant verklaar is. Gelukkig beteken dit dat Pretoria se sowat 70 000 bome nie uitgewis gaan word nie, maar dat nuwe aanplantings verbode is. Die bestaande bome word beskerm en om een te beskadig of verwyder, is ’n strafbare oortreding.

Met die aanbou van die stad se A Re Yeng-busbane enkele jare gelede, is sowat 200 jakarandas van Lynnwoodweg na George Storrarrylaan hervestig. “Jakarandabome is een van die stad se belangrikste bates en moet beskerm word,” het die stadsraad destyds verklaar. Die bome het oorleef en blom steeds jaarliks.

Gewoonlik blom jakarandas in Oktober en teen November begin die blomme verdwyn wanneer die bome begin blare kry. Dit was vanjaar ook die geval, al is daar nog enkele bome met pers kruine sigbaar.

Die eerste twee jakarandas is in 1888 hier aangeplant op die eiendom van J.D. Celliers, markmeester van Pretoria. Dit het as Myrtle Grove bekendgestaan. Vandag is Sunnyside Primary School op dié terrein en die twee bome staan (en blom!) steeds.

Oor hoe die Suid-Amerikaanse bome in Pretoria beland het, is daar verskeie teorieë, insluitend dat Celliers die bome self van Rio de Janeiro ingevoer het, of as deel van ’n besending bome gekry het wat deur ene baron Von Ludwig van Brasilië ingevoer is, of dat die bome deur ’n besoekende tuinboukundige genaamd Tempelmann daar geplant is. Daar word ook vertel dat die bome teen £10 elk aangekoop is, wat destyds nogal ‘n stewige bedrag was. As dit waar is, moes die bome baie mooi vir Celliers gewees het.

In 1903 het die staatstuinboukundige, James Clarke, opdrag gekry om bome vir die staatskwekery in Groenkloof te kweek. Hy het saad vir sy projek uit Australië bestel. Skynbaar was daar ook jakaranda-saad in die pakkie. Hy het dit geplant, en teen 1906 die jakarandas wat só gekweek is aan die munisipaliteit van Pretoria geskenk. Dit was vir die munisipaliteit so mooi dat hulle besluit het om die bome op groot skaal aan te plant. Clarke moes sy kweekwerk op groot skaal voortsit en het die bynaam “Jacaranda Jim” gekry!

Voor jakarandas kenmerkend van die stad geword het, het Pretoria as “die stad van rose” bekend gestaan. Vandag spog Bloemfontein met dié naam.

In 1962 is wit jakarandas ook in Pretoria aangeplant, maar om eerlik te wees, hulle maak glad nie so ‘n indrukwekkende vertoning as die pers variant nie.

Melbourne se jakarandas is ’n ewe geliefde en bekende gesig. Elders in die wêreld staan die bome as swart poui-, nupur- of varingbome bekend.

In Pretoria bestaan die bygeloof onder studente dat as ’n jakarandablommetjie op jou kop val wanneer jy op pad na die eksamenlokaal is, jy gaan slaag.

In Queensland, Australië, praat student weer van “pers paniek” omdat hulle teen die tyd wat die bome begin blom onder groot druk is om werksopdragte te voltooi.

In hulle natuurlike habitat in Argentinië word jakarandas as ’n kwesbare spesie beskou.

Similar Posts