Natuurhoekie – red of ramp?

Deur Alana Bailey

Pretoria het die afgelope maand onder ’n paar wilde storms deurgeloop. Die gevolg is dat baie nessies uit bome gewaai het, of kuikens van verskeie soorte wilde voëls voortydig die nes verlaat het.

Wat doen ’n mens as jy so ’n kuiken vind?

In Suid-Afrika is daar ’n baie handige Facebook-groep met die naam Helpless Wings.  Ek is seker soortgelyke groepe bestaan in die meeste ander lande en kan waardevolle advies aanbied.

Mense kry klein diertjies of voëltjies baie jammer, maar soms is die redding eerder ’n ramp as wat dit in die belang van die kleintjies is. Dikwels is deel van hulle grootwordproses juis om neste of skuilings te verlaat en dan sorg die ouers nog vir ’n geruime tyd vir hulle voor hulle kan vlieg of selfversorgend raak. Gevlekte ooruile is ’n voorbeeld in dié verband.

As mense inmeng en hulle probeer “hans grootmaak”, raak die voëls of diere te gewoond aan mense en verloor hulle natuurlike vrees vir die tweebeenspesie, wat later tot ernstige gedragsprobleme kan lei, of die diertjie of voëltjie kan laat verhonger of in die gevaar sal stel as dit sonder behoorlike deskundige rehabilitasie vrygelaat word.

Die beste optrede is dus as jy so ’n kleintjie raakloop, om by ’n geloofwaardige, kundige organisasie te verneem wat om te doen VOOR jy dit optel of in die huis bring. As hulle bevestig dat dit wel hulp benodig, hou dit warm en moet eerder geen kos, water of ander vloeistowwe gee nie. Sorg net dat dit so gou as moontlik by so ’n organisasie uitkom sodat dit behoorlik versorg kan word.

Ek is grootgemaak met die storie dat ’n mens vir klein voëltjies pap moet voer, maar soms is dit die mees gevaarlike ding vir die betrokke spesie. Dieselfde geld daarvoor om vir klein diertjies koeimelk te gee. Dit kan sommige soorte se spysvertering só skaad dat hulle ’n lang en pynlike dood sterf.

Dus, ’n hart vir die natuur is wonderlik, maar maak seker dat jy red en nie verder seermaak nie.

Similar Posts