Navorsing wys hoe Afrikaolifante reuksin vir uitkenning inspan

Nuwe navorsing wys dat Afrikaolifante ’n “tropreuk” deel wat dit vir hulle maklik maak om lede van hul eie trop te herken.

Dié navorsing is deur dr. Katharina von Dürckheim van die Universiteit Stellenbosch (US) gedoen wat in Desember verlede jaar haar PhD in bewaringsekologie oor die onderwerp aan die universiteit verwerf het.

Haar tesis is getiteld “Olfaction and Scent Discrimination in African Elephants (Loxodonta africana)”.

Von Dürckheim is die hoof van die nuwe Wildlife Free to Roam-navorsingsprogram by die US. Die program fokus op die skep van verbindingsroetes wat wild toelaat om makliker tussen groot bewaringsgebiede oor grense heen in Suider-Afrika te beweeg, luidens ’n verklaring van die US.

Sy was deel van ’n groot verskuiwingsoperasie van 120 olifante in Malawi en het met deskundiges van die Amerikaanse leër saamgewerk wat wilde diere se vermoë om landmyne te bespeur bestudeer het, en ook olifante se reuksin ondersoek het.

Volgens haar het die manier waarop Afrikaolifante mekaar groet, tot haar PhD-onderwerp aanleiding gegee.

“Afrikaolifante het hierdie fassinerende, rituele groet-seremonie wanneer hulle bymekaarkom. Selfs mak olifante doen dit steeds. Hulle urineer, ontlas, het ’n afskeiding van hul temporale kliere, brom, trompetter, draai in die rondte en flap hul ore om ’n soort ‘pagiderm-parfuum’ te versprei. Dis iets wat my herinner aan hoe skoenlappers en motte hul vlerke fladder om feromone te versprei.”

Von Dürckheim sê die tropreuk het meer te doen met die bakterieë wat hulle aan mekaar afvee gedurende die groet-sessies as die feit dat hulle dalk verwant is.

“Olifante mis en urineer langs die roetes wat hulle volg. Dit is as’t ware kommunikasie-spilpunte of ‘olifant posbusse’. Dit bevat reukboodskappe wat ander olifante toelaat om te bepaal watter olifante in die omgewing is en moontlik gereed is om te paar.

“Wanneer daar ’n kol urine is, sal ’n olifant daarop blaas en die stofpartikels sal versprei. Daarna asem die dier dit diep in en voer soms partikels na die orgaan van Jacobson in die bokant van die mond in wat ons ’n flehmen-respons noem.”

Haar navorsing toon dat Afrikaolifante deur aan urine en mis te snuif, tussen onbekende en bekende lede van hul spesie kan onderskei. Hulle kan ook tussen individuele olifante onderskei op grond van die “reuk” wat afgeskei word deur die temporale en speekselkliere en genitalieë.

Von Dürckheim het meer oor olifante en hul reuksin geleer deur met olifante in gevangenskap te werk.

“Ons het byvoorbeeld ’n eksperiment gedoen waarin ons iemand ’n ent weg die veld in laat stap het. ’n Uur later het ons ’n olifant sy spoor laat volg. Hulle het die mens elke keer suksesvol opgespoor.”

Haar studie wys ook dat olifante hul reuksin kan gebruik om tussen drie generasies van mense te onderskei en ook minstens tussen nege verskillende mense.

LEES OOK: Natuurhoekie – Die ooievaar besoek Rietvlei Natuurreservaat

Similar Posts