Olifante in die vertrek en in taal

Deur Alana Bailey

My oupa het in die Groot Depressiejare ’n kompetisie gewen. Mense is genooi om ’n grappie aan ’n Engelse koerant te stuur en die wenner het ’n welkome geldjie ontvang. My oupa se grappie vertel van ’n man wat staan en kyk na ’n olifant se slurp. Hy vra: “What is that?” “It is the elephant’s trunk,” kom die antwoord. Volgende loer die man na die olifant se potsierlike stertjie en merk droog op “Then I suppose that is its portmanteau”. Vandag vang mense nie die grappie nie, want hulle reis nie meer met ’n “trunk” (groot reiskis of -koffer) en “portmanteau” (leer handtas wat veel kleiner as ‘n “trunk” is) nie. Tog lag ons familie amper ’n honderd jaar later nog oor Oupa se spitsvondigheid en hoe hy, ’n plattelandse Afrikaner, met die Rooitaal gespeel het.

Olifante kom nogal in heelwat spreekwoorde voor. Die oorsprong van die idiome is besonder interessant.

Voorbeeld een is wanneer ons van iemand met ’n uitstekende geheue sê dat hy ’n geheue soos ’n olifant het. ’n Artikel in die Scientific American bevestig dat olifante inderdaad goeie geheues het en daarop moet staat maak vir oorlewing. Die artikel vertel van twee olifante wat mekaar in ’n olifant reservaat raakloop en uitbundig raak. Wanneer hulle versorger navorsing doen, vind sy uit hulle het 23 jaar tevore ’n tydjie lank saam in ’n sirkus gewerk. In Tanzanië het veldwagters weer bevind hoe olifante wanneer ’n droogte hulle normale drinkplekke se water laat opdroog, onder leiding van die ouer matriarge na waterbronne wat dekades laas besoek is, stap. Anders as die meeste ander diere ken olifante ook elke lid van hulle trop, wat uit dertig of selfs meer diere kan bestaan. Om lank te kan oorleef, voer sommige navorsers aan, moet ’n dier ’n goeie geheue hê, en olifante kan volgens National Geographic immers tot 70 jaar oud word.

Wie van ons ken nie ’n wit olifant verkoping nie? Die term “wit olifant” verwys gewoonlik na iets wat duur, maar ongewens is, of selfs ’n las raak. Die term is al in die sewentiende eeu in Westerse tale gebruik. In die destydse Siam (vandag Thailand) is olifante van ’n besonder ligte kleur as geweldig kosbaar beskou. Wanneer een ontdek is, het dit onmiddellik die besit van die koning geword. Soms het ’n koning volgens oorlewering dan so ’n olifant aan iemand gegee vir wie hy kwaad was, omdat die persoon dan verplig was om die dier met net die beste te versorg – ’n verpligting wat selfs rykes finansieel kon ruïneer.

Waar kom dit vandaan om te sê dat daar ’n olifant in die vertrek is, met ander woorde iets van enorme belang of ’n groot uitdaging waaraan nie aandag gegee word nie? Die oudste moontlike oorsprong skryf dit aan die beroemde Russiese fabelskrywer, Ivan Krylov (1769–1844), toe. Hy het ’n verhaal getiteld Die nuuskierige man geskryf wat vertel van ’n man wat ’n museum besoek en allerlei klein goedjies opmerk, maar nie ’n olifant daar raaksien nie. Vandaar is die uitdrukking in spreektaal vasgelê. In Engels is die oudste gebruik daarvan in 1935 opgespoor. In dié jaar is die Broadway-musiekblyspel, Jumbo, opgevoer. Een van die karakters daarin het ’n regte olifant oor die verhoog gelei. Hy is dan kastig deur ’n polisieman voorgekeer. “Wat maak jy met daardie olifant?” het die polisieman gevra en die man het geantwoord, “Watter olifant?”

’n Swart olifant is ’n besonder interessante nuwe term wat gehoor word, maar nog nie algemeen in Afrikaans is nie. Dit is ’n vermenging van “swart swaan”, die beskrywing wat Nassim Nicholas Taleb in sy gelyknamige boek aan onwaarskynlikhede wat ’n groot impak maak, gee, en die einste olifant in die vertrek. ’n Swart olifant is dus ’n dreigende ramp wat vir almal sigbaar is, maar wat niemand wil aanspreek nie.

Pienk olifante word glo gesien as ’n mens hallusineer. Die term het algemeen in gebruik gekom aan die begin van die twintigste eeu, maar die presiese herkoms is effe duister. ‘n Lang maar vae verduideliking kan hier gevind word.

Mag julle ’n mooi dag geniet, sonder wit, swart of pienk olifante!

Similar Posts