Onderneming in die Kollig: Beskuitblik

Wanneer jy enige Suid-Afrikaanse huis besoek, word die beskuitblik met die heerlikste beskuit gou-gou te voorskyn gebring.

Koffie (of tee) en beskuit is die perfekte ontbyt en dis ‘n gesonde en voedsame peuselhappie.

Brenda Smit is in Suid-Afrika gebore en getoë. Sy en haar gesin het in 1998 na Nederland verhuis. Kook en bak was nog altyd haar passie, en omdat haar familie en vriende so versot is op haar beskuit het sy net al meer gebak.

“My passie vir beskuit bak was nog altyd ‘n familiesaak. Ek gebruik my ma en skoonma se beproefde resepte. My skoonma het ook beskuit gebak vir winkels wat tuisgemaakte lekkernye verkoop, en gelukkig het sy my die geheim van grootmaat bakkery geleer.”

Beskuitblik is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. Dié gids stel ander Afrikaners in staat om Suid-Afrikaanse ondernemings in die buiteland te ondersteun.

Die Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om ’n gemeenskap te vorm. Tans beskik die Wêreldgids oor meer as 1 000 ondernemings, van Afrikaanse dokters in Nieu-Seeland tot biltongwinkels in Londen.

Netwerke is meer as net ondernemings; dit is ook ’n waardevolle wyse om ’n ondersteuningsbasis te bou vir daardie dae wanneer die verlange na ’n goeie Suid-Afrikaanse wyn, kuier om ’n braaivleisvuur en die onmisbare Afrikaner-gasvryheid te veel raak.

LEES OOK: Onderneming in die Kollig: Betsy’s South African Deli

Similar Posts