Op reis met jou smaaksintuig

Deur Alana Bailey


Die feit dat baie mense wat Covid-19 opgedoen het, hul reuk- en smaakvermoë verloor het, het ’n mens weer herinner hoe belangrik jou ruik- en proesintuig is.


Dit is nogal interessant hoe intens ’n mens ’n bepaalde smaak kan ervaar, veral wanneer jy op reis is. Soms bly die herinnering daaraan jou lewenslank by.


Deesdae fokus toerisme ook toenemend op smaakreise. Mense besoek byvoorbeeld ’n sekere land of streek om die tradisionele produkte en disse daar te beproef of selfs te leer maak.


Iets wat vir my interessant is, is hoe smake en bediening van plek tot plek kan verskil.


In 1994 het ek die eerste keer die Afrika-kontinent verlaat om vriende in Engeland te gaan besoek. Met ontbyt tydens my eerste oggend in Londen vra my vriendin of ek graag lemoensap wil drink, en groot is my verrassing toe die smaak totaal vreemd is. Aanvanklik het ek gedink dit is net die soort sap wat hulle koop, maar nee, oral in Brittanje en Europa smaak lemoensap net anders.


In Nederland was dit ook belangrik om te leer dat koffie, soos ek daarvan hou met ’n skeutjie melk in, “koffie verkeerd” genoem word. Tee word daar weer dikwels bedien met ’n koppie kookwater en ’n keuse tussen ’n groot verskeidenheid geure tee, met die sakkie van jou keuse wat in ’n bakkie lê en wag om letterlik in die kookwater te beland. Nêrens is melk in sig nie.


Dan is daar natuurlik die wonderlike smake wat ’n mens leer ken en net nie plaaslik presies só kan vind nie.


Een daarvan is Europa se roomys, of dan meer spesifiek Italiaanse gelato. Iemand wat nog nie regte gelato geëet het nie, het nog nie geleef nie. Op ’n keer het ek by ’n winkel wat meer as vyftig geure gelato verkoop, straciatella bestel, net om daardie pragtige naam uit te spreek. Soos die klanke, rol die lekkerte van jou tong af as jy daaraan weglê. Een beskrywing daarvan wat ek gevind het, stel dit ewe romanties:

“Stracciatella word gemaak deur ’n fyn straaltjie gesmelte sjokolade in roomys wat geklits word, te drup. Die sjokolade stol wanneer dit in aanraking met die roomys kom en vorm hemelse vlokkies wat met die roomys verenig om letterlik in jou mond te smelt.”


Ook in Italië het ek in die klein dorpies Teramo en Ascoli Piceno kennis gemaak met Oliva Ascolana del Piceno. Dit is ’n groen olyf wat ontpit word, met vleis (ham was lekker) gevul word en dan in ’n krummelbeslag diepgebraai word. Lekkerte in klein happies!


Dan is daar ’n dis genaamd Kaiserschmarrin. Dit is ’n Bavariese en Oostenrykse nagereg wat ’n mens as geroerde pannekoek sou kon beskryf. Basies word ’n pannekoek gebak met rosyne wat in rum geweek is, daarby. Die pannekoek word gesnipper en soms word die stukkies ook gekarameliseer. Dit word bedien met appelmoes, poeiersuiker, room en soms selfs ander gepreserveerde vrugte. Dit bied die perfekte troos na ’n dag in die yskoue buitelug.


In Limburg is “flaai” ’n heerlike bederfie. Ons sal flaai rofweg as ’n “flan”-tert met ’n vrugtevulsel beskryf, maar weer moet jy dit proe om te besef hoe besonders dit is. In Maastricht sal jy beswaarlik verby ’n kafee stap wat nie ’n advertensiebord buite het om hul unieke flaai en koffie te adverteer nie.


Nog ’n gunsteling in Nederland is krokette. ’n Kroket van beesvleis met ’n dik sny growwe bruinbrood en mosterd wat jou sinusprobleme vir die volgende nege jaar kan wegbrand, is ’n smaakervaring waarna jy nog vir jare lank sal hunker.


Tuis dink ons natuurlik aan trooskos soos melktert, melkkos, bobotie en waterblommetjiebredie. Dalk is dit jou ma of ouma se resep wat jy in jou smaakgeheue saamdra, of dalk jou eie aanpassing van die tradisionele weergawe.


LEES OOK: Die pad huis toe

Similar Posts