Roepingsgedrewe onderwysers bou en vernuwe die onderwysprofessie

Deur dr. Maretha Steyn

Wêreldonderwysersdag word op 5 Oktober gevier. Vanjaar se tema, soos toegedig deur die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco), is: “Die onderwysers wat ons nodig het vir die onderwys wat ons wil hê.”

Op dié dag, wat in Suid-Afrika in die skoolvakansie val, word daar erkenning gegee aan die vasberadenheid en ywer waarmee onderwysers hul werk aanpak. Terselfdertyd word die soeklig geskyn op aspekte waarmee die sektor en onderwyslui te kampe het.

Dr. Maretha Steyn, die departementshoof van Professionele Studies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, omskryf ʼn onderwyser as ʼn professionele persoon wat roepingsbewus met die kroon van God se skepping omgaan by wyse van onderwysende opvoeding. Sy voeg by dat roepingsgedrewe onderwysers nie net op die effektiewe ontsluiting van kennis fokus nie, maar ook op die aktiewe kultivering van wysheid, die holistiese ontwikkeling en selfverwesenliking van leerders, asook die vorming van hart en denke.

As daar na die plaaslike onderwyslandskap gekyk word, verduidelik Steyn dat die heterogene aard van die Suid-Afrikaanse bevolking, anders as in toponderwyslande soos byvoorbeeld Finland, verskeie uitdagings tot gevolg het. Hierdie uitdagings sluit onder meer in meertaligheid, die onderrig van die meeste leerders in ʼn taal anders as hul moedertaal, kulturele verskille, sosio-ekonomiese beperkings, swak en verouderde infrastruktuur, toeganklikheid en ʼn gebrek aan gehalte onderrig. Laasgenoemde word voor die deur van oneffektiewe onderwysopleiding gelê.

Desondanks hierdie multidimensionele uitdagings meen Steyn dat die plaaslike onderwyssektor die afgelope aantal jare, veral na die aanvang van die Covid-19-pandemie, van veerkragtigheid en innovasie getuig. “Roepingsgedrewe onderwysers gaan daagliks kreatief en met impak om met die kurrikulum en bou in die proses brûe tussen leerders en die breër gemeenskap,” sê Steyn.

Een van die groot uitdagings waarmee die plaaslike onderwyssektor te make het, is die tekort aan goed opgeleide onderwysers. Steyn verduidelik dat dié uitdaging nie noodwendig verwys na ʼn stelsel waarin daar nie genoeg onderwysers opgelei word nie, maar eerder na twee diepliggende probleme.

Die eerste hiervan is die kritiese tekort aan manlike onderwysers. Hierdie tekort spoel oor na alle vakgebiede en fases. Die tweede probleem spruit uit die realiteit dat die meeste onderwysers nie hul opleiding in hul moedertaal of die taal van onderrig en leer op skoolvlak ontvang nie. “Moedertaalonderrig rus voornemende onderwysers toe om hul kennis te verdiep, krities daarmee om te gaan en om hul kundigheid met selfvertroue aan te bied,” verduidelik Steyn. In die geval van Akademia word onderwysstudente toegerus om in Afrikaans én Engels onderrig te besig.

Akademia, as privaat hoëronderwysinstelling, het in 2021 op Wêreldonderwysersdag die bekendstelling van sy Fakulteit Opvoedkunde gevier. Vandag, twee jaar later, speel dié fakulteit ʼn sleutelrol in die lewering van onderwysers wat aanpasbaar is gegewe die vinnigveranderende en tegnologies gevorderde onderwysomgewing.

Dit is voorts die droom en strewe van die fakulteit om deur hoogstaande onderwysopleiding ʼn positiewe bydra te maak tot die praktiese, grondliggende en refleksiewe vaardighede van Suid-Afrikaans leerders. “Uitnemende onderwysopleiding lê ʼn grondslag van hoop en sal leerders toerus met vaardighede en denkvermoëns wat die wêreld vir hulself en hul gemeenskappe sal oopbreek,” meen Steyn. Sy voeg by dat in die geval van Akademia, voornemende onderwysers nie net toegerus word met gespesialiseerde vakkennis nie, maar ook met toegepaste vaardighede en ʼn verantwoordelikheidsin vir uiteenlopende opvoedkundige kontekste. Binne hierdie kontekste vervul roepingsgerigte onderwysers die onmisbare rolle van fasiliteerder, lewenslange leerder, assessor, vakspesialis, leier, kurrikulumspesialis en geestelike leier.

“Gedagtig aan Akademia se visie, om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms, besef ons dat studente méér moet wees as bloot vakkundiges. Studente moet insig hê in die samehang van dinge en moet bo alles die waardes van geloof, hoop en liefde as pioniers en rentmeesters uitleef,” sê Steyn. Sy sluit af deur te sê dat roepingsgedrewe onderwysers positief daartoe meewerk om die onderwysprofessie in Suid-Afrika te vernuwe en verder uit te bou.

Ter viering van Wêreldonderwysersdag meen dr. Maretha Steyn van die Fakulteit Opvoedkunde aan Akademia, dat roepingsgedrewe onderwysers nie net die toekoms van hul leerders positief beïnvloed nie, maar ook die onderwysprofessie as geheel.

Foto: thisisengineering-raeng-unsplash

Similar Posts