Taalblapse in die buiteland

Deur Ira van der Merwe

Om in ’n nuwe land aan te pas kan soms misverstande veroorsaak, veral as dit kom by kommunikasie. Ira van der Merwe vertel van die taalblapse wat hulle al begaan het in die buiteland.

Die Spoke van Poznań
So kom ons in Poznań aan vir manlief se halfmarathon. By ontvangs vra ons uit oor besienswaardighede wat geskik is vir klein kindertjies. Die ontvangsdame se Engels is omtrent so sleg soos ons Pools, maar ons is dankbaar daarvoor dat sy probeer. Ons moet egter kreatief stukke invul. Een van die dinge om te sien is die twee “ghosts” wat om twaalfuur uitkom. Tyd is min en ons vra nie verder uit nie. (Ook maar lekker stupid.) Dis baadjiepunte in die wind op pad na die dorpsentrum toe.


Ons vra ’n paar verwarde Pole uit oor die spoke, maar hulle frons en skud net hulle koppe. Ons sien toe ’n spul mense wat by die kloktoring saamdrom en besef dat dit seker die plek is waar kleinding haar eerste spook gaan sien – sy is buite haarself van opgewondenheid op pappa se skouers. Sy laat rook by ons ore uitkom met diep vrae oor hoe verskillende mense dink oor die ewige siel, geeste, wit lakens en hoekom ’n mens “boe” sou sê, wanneer jy dood is. Die klok slaan twaalf en uit kom twee bokke. Hulle gaan nie “boe” nie, maar “bê.”
Poznań se embleem is twee bokke. Dit besef ons toe met ’n Google-soektog ná die tyd. Dit sal my leer om eers oor ’n plek op te lees en ekstra suigstokkies saam te dra vir kleintjies wat huil oor ‘n spook wat hulle nie gesien het nie.

Misverstand by die haarkapper
Ek daag toe die een dag so windgat op soos iemand op die Huisgenoot se voorblad, want iemand in die salon sê “artista”, wat kunstenaar beteken. Mense “oe” en “aa” en ek voel goed ingenome met myself.


Intussen is my haarkapper nog op die foon en sy lyk nie lekker nie. Ek reken dis oor die lawaai van ’n vrou wat haarself verloor oor my wollerige, lawwe 40 kg “Goldendoodle” wat saamgekom het. ’n Mens sou sweer sy is op Oprah en George Clooney het pas ingeloop.
Almal glimlag en wil net vir Jabu streel. (Ek besef toe nederig dat die “oe’s” en “aa’s” nie vir my was nie.) Ek pluk hondehappies uit en die brak doen toertjies soos ’n sirkusperd. Jinne, dis ’n jolige affêre: gesigte word gelek, hondekoekies vlieg die wêreld vol en almal geniet hulle gate uit.
Ingenome dink ek by myself dat dit ’n goeie emigrasie-dag gaan wees. My haarkapper klim uiteindelik van die foon af en stap na my toe met ’n bekommerde gesig. My moed sak in my skoene. Sy babbel iets in Pools waarvan ek g’n hond haaraf kan maak nie. Vir ’n oomblik is ek bly dat ek prentjies saamgebring het van my gewensde kapsel, want met die taalgrens gaan ek hier uitloop soos ’n 1983 Cindy Lauper.

Ek word teruggeroep na my realiteit met ’n woord wat sy herhaal, wat ek weet ek ken, maar my brein is besig om te staak. Ek staan daar met ’n bek vol tande en wag vir die sinapse om te verbind. Niks. Ek gryp na my foon om Google Translate oop te kry. Ek probeer om my kaffeïentekort weg te steek en tyd te koop, sodat my dowwe kop kan onthou wat de os piątek nou weer beteken, maar dit lyk vir my my vingers is ook nou aan het betoog.

Skielik. Vrydag! Dit beteken Vrydag! Jippie! En dan die besef … vandag is Donderdag.

Dit sal my leer om nie aan my kalender te raak as kleinding op my skoot sit nie. En om nie my voet by die deur uit te sit voor my derde espresso nie.

Similar Posts