Uit en Tuis: ’n E-pos uit Bavaria

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Lucille Burger van Zyl, wat saam met haar man en kinders in Bavaria, Duitsland woon.

Hallo Lucille, dit is heerlik om met jou te gesels. Hoekom het julle juis gekies om na Duitsland toe te emigreer?

Ons het Duitsland, voor ons emigreer het, vir vakansie besoek. Die taal het my nog altyd fassineer, die kultuur, ensovoorts. Dit is ’n baie mooi land.

Uiteindelik het ons in 2013 deur middel van ’n werksgeleentheid wat my man gekry het, oorgekom.

Wat was die grootste aanpassing vir jou in die buiteland?

Daar was in 2013 min mense wat Engels gepraat of verstaan het. Dit was ’n aanpassing om op die autobahn en om in die sneeu of op ysige paaie te bestuur. Ons lisensies is bloot vertaal, alhoewel ons geen van die nuwe padreëls en -tekens geken het nie. Alles is toe op Sondae en restaurante sluit vir middagpouse tot 17:00.

Is dit anders om inkopies te doen in Duitsland in vergelyking met Suid-Afrika?

Dit is baie anders, in die sin dat mens eerstens baie vinnig jou goed uit jou trollie moet pak op die bewegende band, en dit weer baie vinnig moet inpak met beperkte beskikbare spasie. Mense is meestal baie ongeduldig. Daar is ook punte waar jy self met ’n weegstelsel kan oplui en bv. groente ook self weeg en betaal. Jy word dan uitgelaat met jou betaalstrokie, deurdat jy dit inskandeer.

Julle het twee kinders, kan hulle Afrikaans praat?

Ons praat net Afrikaans by die huis. Hulle kan goed Afrikaans praat en is lief vir hulle taal, alhoewel hulle van die begin af in Duits skoolgaan.

Hoe verskil die skoolsisteem in Duitsland van die skoolsisteem in Suid-Afrika?

Dit verskil baie! Die skooljaar begin einde somer, in die middel van September. Kinders is in die Grundschule/Laerskool van graad een tot vier, ouderdom sewe jaar tot tien jaar. Daarna moet hulle reeds op tienjarige ouderdom hoërskool toe gaan na gelang van hulle punte – Laergraadskool (Mittelschule/Hauptschule) of Standaardgraadskool (Realschule) of dan Hoërgraadskool (Gymnasium). ’n Kind kan na ’n laer vlak beweeg, maar met moeite ook weer die leer klim.

As ’n mens die skool vroeër wil verlaat, hang dit af in watter skool jy is en watter soort matrieksertifikaat jy het, en hoe dit jou universiteitstoelating of vakleerlingskaptoelating (wat baie algemeen is) beïnvloed.

Daar is ook vorderskole vir kinders met leerprobleme. Hulle kan byvoorbeeld graad een in twee jaar voltooi en word in kleiner groepies ingedeel. Spraak- en arbeidsterapie word aangebied en deur die mediese fonds betaal.

Die hoërskoolkinders het bloktye en kan gedurende af periodes huis toe gaan of in die kafeteria gaan sit. Hier is tuisonderrig onwettig en alle kinders is skoolpligtig. Daar is ook verlengde onderrig, as ’n opsie vir kinders wat dit nodig het. Die staat befonds die skool, dus word geen skoolfonds van ons verlang nie. Deur die jaar word geld byvoorbeeld ingesamel vir papierdonasies, of ’n handboek of uitstappie.

Ek weet van baie min kinders wat maklik integreer het omdat die sisteem so streng is, en

weens die eng uitkyk.

Hoe sal jy die emigrasieproses beskryf?

Ek wil niemand afraai om dit te doen nie, maar dit is uitputtend. Miskien ook omdat ons nie Duits kon praat nie, en die hoeveelheid streng reëls en pos wat jy moet vertaal. Dit was angswekkend, maar baie insiggewend. Ek dink nie ’n mens sal ook kan sê jy het jouself voluit uitgedaag in die lewe as jy nie eers in ’n ander land met ’n vreemde taal moes aanpas nie. Duits is nie so na aan Afrikaans as wat mense dink nie. Daar is nie genoeg ooreenkomste om jou bas te red as jy nie taalklas wil neem nie.

Het jy enige raad vir mense wat tans besig is met die emigrasieproses?

Doen baie mooi navorsing. Elke familie se situasie is uniek in terme van die finansies, die kinders se aanpassingsvermoë, die hoeveelheid verandering wat mens kan verdra as bv. man en vrou se rolle omruil, en as daar geen familie is om ondersteuning te bied nie. Dit neem lank om vriende te maak.   

As jy reeds ’n wankelrige huwelik het, hou vir eers net verby, want ’n mens maak ongelooflik emosioneel staat op mekaar. Jy moet ’n sterk vergewensgesindheid en baie geduld hê … Haha …

Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg en ons is gelowig, ons God is ons anker. Vir jou algehele veiligheid, reismoontlikhede en beleggingsdoeleindes is emigrasie die moeite werd.

Is dit duur om in Duitsland te woon?

Redelik.

Huise is letterlik tien maal duurder as in Suid- Afrika. In München kan ’n mens €800 000 vir ’n 130 m²-huis op ’n 300 m²-landgoed betaal, of dan huur vir €2 000 plus per maand. Die rentekoers is laer. “Warm huur” (wat asblikke, belasting, skadeversekering ens. insluit) kan baie maklik meer as die helfte van ’n gemiddelde salaris wees.  

Mediese fondse is baie duur maar dek ook baie meer as net mediese rekeninge.

Karre is nie so duur nie en openbare vervoer en brandstof is bekostigbaar.

Kos kos omtrent dieselfde alhoewel vrugte en beesvleis baie duur is.

Sommige kleuterskole is verniet, maar daar is ook ander wat duur ook is. Dit hang af of dit deur die munisipaliteit, die Katolieke Kerk of privaat bedryf word. Babasentrums is duur. Internasionale kleuterskole en skole is privaat en is baie duur.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Jammer, maar dis ’n lys!

Familie, die natuurskoon, en veral die diere, mense met ’n sin vir humor, die weer, seegolwe, boeremarkte, ’n verskeidenheid Engelse flieks, gehalterooivleis, kerkdienste in jou moedertaal, en ’n goeie haarkapper!

Wat is vir jou oor die algemeen baie anders as in Suid-Afrika?

Daar is verskillende motorbande vir winter en somer, of bande wat die hele jaar gebruik kan word. 

Selfdiensstalletjies waar ’n mens self neem en betaling in ’n blikkie agterlaat – bv. blomme sny, pampoene pluk, koerant koop. Boere se produkte soos melk in glasbottels, eiers, aspersies, maar ook vleis in ’n padstalyskas.

Vier herwinningsasblikke, en ’n mens betaal vir jou rommel by die ashoop en jy moet dit self sorteer.

Praktyke sluit vir middagete, soms drie ure.

Tradisionele goed soos ’n groot houtooievaar in die tuin, met klere en speelgoed aan gehang, sodat die buurt bewus is van ’n nuwe baba en die gesin kan gelukwens. So ook met ’n belangrike verjaarsdag of prestasie. Fotoborde met treffende boodskappe in die voortuin.

Rettungsgasse op die hoofweg en autobahn – as die verkeer staan, dan moet ’n mens tussen die heel vinnige baan en die volgende baan spasie ooplaat sodat nooddienste in die middel kan deurjaag.

Hondebelasting moet betaal word.

En as jy besope op jou fiets gevang word op pad huis toe, van bv. die “Volksfest” of iewers af, kan hulle jou bestuurslisensie wegneem vir ’n tydperk en/of jou beboet. Daar is baie streng reëls wat spoed, afstand en alkoholgebruik aanbetref, en daar is altyd kameras wat ’n mens dophou.   

LEES OOK: Uit en Tuis: ’n E-pos uit China

Similar Posts