Uit en tuis: ’n e-pos uit Botswana

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Stefan Pretorius wat al vir vyf jaar in Botswana werk en twee en ’n half jaar daar woon.

Hallo Stefan, van waar in Suid-Afrika is julle en waarom het julle besluit om in Botswana te gaan woon?

Ek en my vrou Jani Pretorius is altwee oorspronklik van Bloemfontein, maar ek het in 2014 Kaap toe getrek om my finale praktiese jaar klaar te maak by Groote Schuur Hospitaal. My vrou (daai tyd nog meisie) het in Bloem agter gebly en ons is daai selfde jaar verloof. Ons is in 2015 getroud op Blouberg se strand en toe het Jani einde 2016 ná die voltooiing van haar graad ook afgetrek Kaap toe.

Ná afloop van my praktiese jaar (2014) is ek voltyds by Rooi Kruis Kinderhospitaal aangestel. In 2017 het ek die geleentheid gekry om deeltyds deel van die nuwe span te wees in Gaborone. In 2019 het ek Rooi Kruis verlaat en voltyds net in Gaborone gewerk. Ek het elke week vir twee dae opgevlieg Gaborone toe.

Toe slaan Covid die wêreld en draai toe als op sy kop. Ek kon weens die reisverbod nie meer opvlieg om te gaan werk nie en het dus ook geen inkomste verdien nie. Die hospitaal het hard agter die skerms met DIRCO saamgewerk agter die skerms met DIRCO om my oor die grens te kan kry sodat ons darem kon werk (ek is die enigste kardiovaskulêre perfusietegnoloog in Botswana). Met die moes ons besluit: of ek gaan alleen en los my vrou en baba agter vir wie weet hoe lank sonder die wete oor wanneer ek hulle weer sou sien, of ons pak als op en trek. Vir my was dit ’n maklike keuse in daardie oomblik en ek het geweet ek soek my gesin by my. Ons het basies 72 uur gehad om op te pak en van die Kaap af in Gaborone te kom.

Vertel ons meer van jou gesin.

Ek is 36 jaar oud. Ek is in Pretoria gebore, maar my hele familie is van Bloem af en my ma het teruggetrek soontoe toe ek omtrent twee jaar oud was.

My vrou Jani (33 jaar) is gebore in Bloemfontein en het daar grootgeword. Sy het verlede jaar haar honneursgaad in Sielkunde voltooi.

Ek en Jani se broer was vriende en saam op skool, so dit is hoe ek vir Jani ontmoet het. Ons het begin uitgaan in 2007 en het toe in 2014 ’n langafstandverhouding gehad. Ons het verloof geraak en getrou terwyl ons in twee verskillende stede gewoon het 1 000 km uitmekaar. Ons eerste jaar as ’n getroude paartjie het ons steeds so gewoon. In 2016 kon sy darem aftrek Kaap toe.

Ons eerste baba (Leah) is in Maart 2019 gebore. Sy is in Blaauwberg gebore. Ons is toe in 2020 op Botswana toe.

Ek en Jani is op Bloubergstrand verloof, het op Bloubergstrand getrou, ons eerste kind is in Blouberg gebore, so toe dit tyd was vir die tweede enetjie om te kom was dit nie ’n moeilike keuse oor waar ons graag wou hê hy moes gebore word nie: Blaauwberg.

Luca is einde Desember 2021 gebore en ons het seker gemaak dat ons in die Kaap was teen die tyd wat hy moes kom.

Om in ’n nuwe land aan te pas kan uitdagend wees, wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak?

Hier is so baie goed wat vir ons moeilik was en soms steeds is. Die kultuurgaping is vir seker hoog op die lys. Ander goed waaraan ons vinnig moes gewoond raak, is dat jy nie alles net altyd in ’n winkel kan kry nie. Hier gaan byvoorbeeld maande verby wat jy nie basiese goed op die rak sal kry nie, goed soos tamaties, uie, aartappels en vars vrugte, om net ’n paar te noem. Al die medikasies is ook nie altyd beskikbaar nie.

’n Ander ding wat my nog daagliks vang is hoe die mense hier bestuur. Bv. as die verkeerslig rooi slaan, moet jy eers seker maak die persoon agter jou wil stop voordat jy dit oorweeg om te stop.

Vertel ons watse werk jy doen en hoe die werkskultuur in Botswana verskil van dié in Suid-Afrika.

Ek werk as ’n kardiovaskulêre perfusietegnoloog in die enigste harteenheid in Botswana. Die werkskultuur is maar min of meer dieselfde vir my hier as wat dit in SA was, behalwe dat ek hier geen kollegas het wat in my lyn werk nie.

Ons is ’n span wat van verskeie lande afkom. Die narkotiseur en ’n paar van die teatersusters is van Botswana, ek is van Suid-Afrika, ’n paar ander susters is van Zimbabwe af en ons chirurg het saam met my in Bloemfontein opleiding ontvang, alhoewel hy van Uganda afkomstig is.

My vrou val onder my permit, wat beteken sy mag nie werk nie. Dit is ook nie so maklik om net werk te kry nie.

Hoe vergelyk die verblyfopsies in Botswana met dié van Suid-Afrika?

Verblyf is maar baie soos in Suid-Afrika, als hang af van die area waar jy wil bly. Wil jy koop of wil jy huur? Huise kan baie duur wees as jy wil koop maar is baie goedkoper as jy verkies om te huur. Ons is bevoorreg om sommer in ’n huis op die hospitaalgronde te kan bly, so ek loop sommer in die oggende werk toe.

Wat doen jy vir ontspanning?

Hier is nie veel vir ons om te doen nie. Hier is baie plekke waar ’n mens kan gaan kamp, maar weens my werk is dit vir ons bitter moeilik om vir ’n naweek weg te gaan iewers heen omdat ek 24/7 op roep is. Ander aktiwiteite is ook maar beperk.

Hier is ’n kwekery met ’n koffiewinkel waarna ons gereeld die kinders vat om te gaan speel of ons vat vir Leah om te gaan perdry, wat sy nogal geniet.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Ons verlang terug Kaap toe, dit is maar waar ons harte lê.

Hier is ook geen ander familie by wie ons kan kuier nie, en weereens, die werk maak dit ook moeilik om gereeld te gaan kuier by familie in Bloem.

Botswana is ’n baie veilige en skoon land en oor die algemeen is die mense baie vriendelik. Ek is seker daar is nog baie ander Suid-Afrikaners wat in die toekoms hierheen gaan verhuis en baie gelukkig sal wees. Hier is reeds baie ekspats van Suid-Afrika wat al vir baie jare hier woon en baie gelukkig is.

Ons? Ons mis ons mense, mis ons taal en mis ons kultuur.

LEES OOK: Uit en tuis: ’n e-pos uit Bahrein

Similar Posts