Uit en Tuis: ’n E-pos uit Brunei

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Jatha Peda wat saam met haar twee kinders op ’n klein tropiese land genaamd Brunei woon. Sy vertel ons van die aanvanklik kultuurskok om massiewe likkewane oor die pad te sien loop en hoe sy Suid-Afrika se droë winters mis.

Hallo Jatha, dit is altyd lekker om ’n e-pos te kry van iemand in ’n land waar ons nog nooit was of van gehoor het nie. Vertel ons ’n bietjie meer van Brunei?

“Brunei? Waar in die wêreld?” Soos die meeste mense vir wie ek vertel waar ons ons tans bevind, moes ek ook eers gaan Google het waar die plek is! Alhoewel dit ’n baie klein landjie op die eiland Borneo is (jy ry binne twee uur dwarsdeur die land), is die land baie ryk aan gas en petroleum.

Brunei is ’n Moslemland en dis ook hoe ek daarvan gehoor het. Op RSG (van alle plekke) het hulle op die nuus vertel van Brunei wat in 2019 sharia law (Islamitiese wet) ingestel het. Wel, dis seker ’n goeie rede om Brunei glad nie te oorweeg nie, maar nadat ek in ons kerkblaadjie gelees het van Open Doors wat vertel dat ons moet bid vir Brunei, en ook gehoor het dat hulle Engelse onderwysers soek, was daar geen keer aan ons nie. Toe dit ook die enigste pos is waarvoor ek aansoek gedoen het en ek dit amper dadelik gekry het, was die koeël deur die kerk. Ons bly nou twee jaar en twee maande hier en ons is baie gelukkig.

Dit is ’n vreedsame en rustige land, waar wet en orde gehandhaaf word en ons weet nie van misdaad hier nie. Dit is ’n uitstekende plek om kinders groot te maak, as jy ’n beginselvaste geloof het en tradisievas is. My kinders is in ’n baie goeie internasionale skool en ek sou nie vir hul hierdie tipe opvoeding in Suid-Afrika kon bied nie.

Jy het genoem dat julle net voor die pandemie julle voete gevind het in Brunei. Kan jy ons bietjie meer vertel oor die emosies wat jy ervaar het tydens hierdie tyd? Watter praktiese aanpassings moes julle maak?

Ons het met sterre in ons oë hier in Brunei aangeland aan die begin van die gevreesde 2020. Ons het drome gehad van hoe ons gaan toer na plekke soos Singapoer, Bali en Kuala Lumpur, want dit was nou binne ons bereik. Ons was egter skaars twee maande hier toe Covid-19 toegeslaan het, en in Maart 2020 het Brunei sy grense gesluit. Dit het beteken dat ons nie weer sou kon terugkom as ons die land verlaat het nie. Dit was ’n groot teleurstelling.

Die regering het dadelik plan gemaak en die land in ’n grendelstaat laat gaan vir ongeveer twee maande. Dit het ’n punt bereik waar daar geen Covid-gevalle was nie en ons het teruggegaan na ’n normale lewe sonder maskers en sosiale afstand. Toe die res van die wêreld deur al die fases van Covid gegaan het, het ons normaal aangegaan en ons was so ’n bietjie verwyderd van die realiteit. Troues, partytjies, skoolbyeenkomste en sportbyeenkomste het normaal aangegaan, terwyl ons moes toekyk hoe die wêreld deur die ergste pandemie van alle tye gaan. Ons was erg gefrustreerd omdat ons nêrens kon heen nie, maar het besef dat Brunei die veiligste plek was.

Nou eers in 2022 het Omicron ons erg getref. Ons het duisende Covid-gevalle elke dag en skole en besighede ly erg. Die proses word egter baie goed gereguleer. Ons het ’n toep, BruHealth, wat gebruik word om jou gesondheidstatus te reguleer. Elke landsburger moet sy Covid-status aanmeld. Alle besighede het ’n QR-kode wat jy moet inskandeer voordat jy by die besigheid kan ingaan. Jy word slegs ingelaat as jou kode groen is. As jy positief toets (ons gebruik antigen rapid tests daarvoor) word jy dadelik vir tien dae in kwarantyn geplaas in jou huis. Ek moet bysê dat die landsburgers baie gehoorsaam is en nie eers droom daarvan om iets te doen wat teen die regulasies van die land indruis nie.

Jy het genoem dat jy twee kinders het, hoe oud is hulle en hoe het hulle aangepas in die nuwe land?

My twee kinders is 14 en 16 jaar oud. Hulle is in die International School of Brunei. Dit was ’n groot aanpassing aanvanklik vir hulle omdat hulle nou moes skoolgaan saam met verskillende kulture en ook in Engels.

Vir my twee Afrikaanse boerekindertjies was dit ’n ongelooflike groot aanpassing. Omdat die skooljaar van Augustus tot Julie loop, moes hulle in Januarie in die middel van die skooljaar begin, wat dit ook moeilik gemaak het. Ek kan egter met dankbaarheid sê dat hulle baie goed aangepas het en dat my seun tans sy IGCSE Cambridge jaar 11 eksamens doen. My dogter het maats vanuit verskeie lande: Sri Lanka, Indië, Brittanje en Switserland onder andere.

Hulle gesels land en sand in Engels, maar die reël is by die huis praat ons suiwer Afrikaans. Ons luister ook Radio Pretoria in die huis en vir alle praktiese doeleindes sal jy dink jy is in Suid-Afrika binne-in ons huis. Dit is ons behoud, omdat ons so ver weg is van ons wortels en familie. Dit het my kinders se wêreldbeskouing baie uitgebrei en hulle is baie volwasse vir hul ouderdom.

Vertel ons bietjie watter werk doen jy en hoe verloop ’n tipiese dag?

Skoolgee hier in Brunei is enige onderwyser se droom! Ek gee Engels Tweede Taal by ’n staatskool vir dogters in die hoofstad Bandar Seri Begawan. Ek onthou nou nog my reaksie die eerste dag wat ek by my klas ingestap het: algehele verstomming! Die meisies het oombliklik opgestaan en my gegroet. Daarna het hulle stil gaan sit, gereed met al hul boeke en skryfbehoeftes op hul tafels. Die klas was doodstil en alle oë was op my terwyl hulle gewag het dat ek iets sê. Hul het dadelik begin om te werk en dit was nie net ’n geval van ’n nuwe besem wat skoon vee nie.

Nou, ná twee jaar by die skool, het ek nog nie een keer nodig gehad om enige dissipline toe te pas nie. Hierdie kinders is uiters fyn opgevoed en om disrespekvol teenoor ’n onderwyseres op te tree is absoluut buite hul ervaringsveld!

My skooldag begin 07:30 en ek gee klas tot 12 :30, wanneer die skooldag vir die leerders eindig. Onderwysers moet dan nog tot 14:30 by die skool bly om administrasie af te handel. Ek gebruik gewoonlik my tyd om boeke te merk en voorbereiding te doen. In die hele tydperk het ek nog nooit nodig gehad om enige skoolwerk huis toe te neem nie. Daar is geen buitemuurse aktiwiteite nie, so die res van die dag kan ek saam met my kinders deurbring.

Was dit vir jou ’n kultuurskok?

Dit was ’n baie groot kultuurskok vir ons gewees. Bo en behalwe die feit dat dit ’n Moslemland is en ons nie ’n kerk hier het nie, was dit die reuke, klimaat en wilde diere wat ons die meeste getref het. Brunei is baie naby aan die ewenaar en hier is baie reënwoude. Dit bestaan uit digte woude met hoë bome, struike en plante wat altyd groen is. Ons verlang na die droë grasvelde in die winter in Suid-Afrika. Dit reën gemiddeld elke tweede tot derde dag, so geen plant kan uitdroog nie. Die temperatuur wissel tussen 28 en 35 grade Celsius elke dag van die jaar, met ’n hoë humiditeit. Dit is nooit winter of koud nie. As jy buitentoe gaan, voel dit of jy deur die lug swem. As gevolg hiervan is alles altyd vogtig en daar hang heeltyd so ’n muwwerige reuk in die lug. Die rede hiervoor is dat alle dreine oop is en daar is oor die hele land afvoerslote vir al die reënwater.

Die muf reuk saam met die reuke van kerrie en brandrissiekosse wat die Maleise mense hier eet, was ’n baie groot kultuurskok. Gelukkig genees tyd alles en nou is ons al so gewoond daaraan dat ons dit nie eers meer oplet nie. Dit is ook nou nie meer vreemd om groot monitorlikkewane van oor ’n meter lank oor die pad te sien stap nie en ook nie om krokodille in die see te sien nie. Die ander aspek wat baie vreemd is, is die opgebreekte naweek. Ek gee skool van Maandag tot Donderdag. Vrydag is ’n af dag omdat alle Moslems dan bid en Saterdag gee ek weer skool! Sondag is dan weer ’n af dag. Die onnatuurlike naweek is iets waaraan ek nog nie kon gewoond raak nie.

Is dit duur om in Brunei te woon?

Gemeet aan die rand is Brunei ’n duur land. Vir een Bruneise dollar sal jy tussen R11 en R12 opdok. Aanvanklik het ek na my asem gesnak om te dink ons bly in ’n huis waar die huur $1 800 per maand is. (Gelukkig betaal die maatskappy waarvoor ek werk dit). Vars melk kos amper $7 (R80) vir twee liter en jy dok amper $30 (R400) op vir ’n rou steak. Petrol is egter baie goedkoop en ek kan my tenk volmaak met net $17 (R200). Later begin ’n mens besef dat jy nie alles in rande kan omsit nie, en as jy dollars verdien is dit baie meer bekostigbaar.

Wat is jou gunstelinggereg wat jy geëet het in Brunei?

Brunei is nog ’n baie jong land (hulle het onafhanklikheid gekry in 1984) en hulle is dus nog besig om tradisies en geskiedenis te ontwikkel. Ons het baie gesukkel om gewoond te raak aan die “smaaklose” kos hier. Rys is hul stapelvoedsel, wat hulle saam met hoender eet. Hul nasionale dis is ambuyat. Dis ’n wit sago-dis wat van die binnekant van die sagopalm gemaak word en saam met sout souse opgedien word. Dit word dan opgeslurp omdat jy dit nie kan kou nie. Ons was nog nie braaf genoeg om dit te probeer nie.

Het jy enige raad vir mense wat in die buiteland wil Engels gee?

Indien jy wil Engels gee in Brunei, kan ek dit absoluut aanbeveel! Ek het nog nooit in my lewe so aangenaam skoolgegee soos hier nie. Die Britse maatskappy waarvoor ek werk, CfBT, kyk baie goed na hul werknemers en hul het alles vir ons gereël en betaal: vliegkaartjies, visums, verblyf, ’n motor wat ons kon huur aan die begin, asook twee weke lange opleiding. Dit is ’n ongelooflike leerervaring en jy het die wêreld aan jou voete omdat jy dollars verdien. Indien iemand belangstel om skool te gee in die buiteland, kan hulle my enige tyd kontak.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Ons mis winter! Ons mis natuurlik familie en vriende, maar ook alledaagse dinge soos Mrs Balls-blatjang en lekker vars brood. Ons mis die heerlike klimaat van Suid-Afrika asook ons uitstappies na mooi plekke in Suid-Afrika met padkos! En die hartlikheid van Suid-Afrikaners!

LEES OOK: Uit en Tuis: ’n E-pos uit Duitsland

Similar Posts