Uit en tuis: ’n e-pos uit Dubai

Uit en tuis is ʼn rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Genevievé Fourie wat in Dubai woon.

Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om oorsee te gaan woon?

Ek is van Nelspruit (ek verwys altyd daarna as ’n groot dorp en ’n klein stad).

My ouers sê vandat hulle kon onthou het ek nog altyd ’n obsessie daarmee gehad om te reis, in Amerika te bly en die wêreld te sien. Ek dink dit het iets te doen gehad daarmee dat dit my droom uit my kinderjarewas om ’n ster op die rooi tapytin Los Angeles te wees.

Ek het op hoërskool en universiteit die grootste passie vir my toerismevakke gehad en kon vir ure droom oor wat buite ons grense lê. Toe die rare geleentheid sy verskyning maak vir my om my “American dream”te laat realiseer, het ek nie eens twee keer gedink nie. Ek het aansoek gedoen vir ’n gasvryheid-en-hotel-internskap in Amerika, ek het glad nie gedink dit gaan gebeur nie!

Drie maande later toe pak ek my paar stukkies wintersklere en pienk Bybel in ’n tas en klim op die vliegtuig Nashville, Tennessee toe vir ’n twaalf maande internskap, met een addisionele maand om deur Amerika te reis.

Ná dertien maande van nuwe kulture leer, interessante mense ontmoet en geld verdien in ’n ander, sterker geldeenheid, was my hart nog nie gereed om terug te kom huis toe nie (veral nie aangesien ek so hard aan my Engels gewerk het in Amerika nie!). So besluit ek toe om weer oë toe te knyp en met ’n effens swaarder tas vol somersklere, geen wintersklere, en my pienk Bybel Dubai toe te trek.

Die plan was om net vir een jaar in Dubai te werk en dan die volgende land aan te durf. Dubai vang ’n mens maklik. Tyd vlieg so vinnig in hierdie groot stad, ek is nou al amper vyf jaar hier en geniet elke liewe oomblik.

Was dit ’n groot aanpassing, en wat was die vreemdste om aan gewoond te raak?

Ek is oor die algemeen baie aanpasbaar en hou van verandering en nuwe uitdagings, dit maak dinge opwindend. Dubai is baie gevorderd met 87% ekspats, so dit iss maklik om mense te kry by wie jy kan inpas en aanpas. Die kos is baie internasionaal.

Die grootste aanpassing is seker die somer, dit word so 47–50 grade met 100% humiditeit, en saans, selfs naby middernag is dit nóg steeds 38 grade.

Nog iets wat vreemd was om aan gewoond te raak, is die veiligheid! Jy kan jou huis en kar se sleutel verloor en nooit hoef te bekommer om ’n nuwe een te kry nie. ’n Mens kan jou foon en inkopies op die tafel los in ’n besige restaurant-area en jou kos gaan bestel en as jy ná 20 minute terugkom is dit steeds daar. My vriende het al telkemale hulle fone in taxi’s vergeet en dit binne 48 uur terug gekry.

Maar ek moet sê die grootste (en dalk snaaksste) aanpassing was ’n ordentlike SKOK vir my sisteem. Tydens my eerste aand in Dubai het ek baie vas geslaap ná die lang vlug. Hoewel mense my daarvan vertel het, het ek nie gedink hulle is ernstig dat Moslems vyf keer ’n dag bid en al voor sonopkoms begin nie (in Januarie kom die son so skuins voor 05:00 op, hulle begin 04:30 te bid). Dié oggend het ek my boeglam geskrik en gesweer dis die einde van die wêreld. Dit was pikdonker buite en in my kamer, en my woonstel was letterlik spoegafstand van die naaste moskee, toe hulle begin oor die luidspreker in Arabies te bid-sing. Ek het wakker geword en gedink: “Ag great, laat dit aan my oor vir my eerste dag in Dubai om ook die wegraping te wees.” Dit het my so tien sekondes gevat om te besef ek is in Dubai en dat hulle bid en dat dié nie finale Roeping is nie.

Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Dubai. Kom julle soms bymekaar?

Ja! Ek het baie Suid-Afrikaanse vriende en ons kuier ten minste een maal ’n naweek. Daar is tot maandelikse sokkie-aande vir alle Suid-Afrikaners (met “brandy specials” en boereworsrolle, natuurlik). Dit is soos ’n uitgebreide familie, elke keer as jy by ’n braai of kuier opdaag, ontmoet jy nog Suid-Afrikaners en so bou jy jou netwerk van Saffas, soos wat ons onsself hier noem.

Die doel van reis en in ander lande werk is eintlik juis om nuwe mense van nuwe kulture en tale te ontmoet en van hulle te leer. So lekker as wat dit is om ’n stukkie van die huis hier te hê, wen niks ’n vriendskap met ’n buitelander nie.

’n Suid-Afrikaanse Kersfeespartytjie

Hoe vergelyk die lewenskoste met dié in Suid-Afrika?

Ek vergelyk dit altyd soos volg:

Ek is in ’n lae tot gemiddelde vlak spesialisrol in bemarking, my salaris in rand is presies dieselfde as my vriendinne wat aptekers is vir groot apteke of hospitale.

Ek bly in ’n studio so groot soos ons sitkamer in Suid-Afrika (ten minste met ’n uitsig). My huur in rand is presies dieselfde (dalk ’n paar honderd meer ’n maand) as my aptekersvriendin se huur vir ’n drieslaapkamermeenthuis in Pretoria.

Die lewenskoste is ongelooflik hoog. ’n Vinnige aandjie uit met drie drankies en ’n hoofgereg kan jou maklik R1 000 kos vir een persoon, en ’n enkelbrandewyn is op sy goedkoopste R180 (dis hoekom ’n mens nooit na rande moet omskakel nie). Aan die ander kant is “brunches” en “unlimited” baie bekend hier. Op Saterdae kan jy tussen R800 en R1 000 betaal vir drie tot vier ure se onbeperkte kos en drank – dit is nogal ’n winskopie!

Bygesê, ek sal nou sukkel om ’n werk in Suid-Afrika te kry wat my die salaris en voordele bied wat ek hier kry. Ons kry gratis mediese versekering, ’n jaarlikse vliegkaartjie huis toe en ons betaal nie inkomstebelasting nie – dit maak ’n baie groot verskil.

Praat julle nog Afrikaans?

Dit hang af waar jy werk. Toe ek net Dubai toe getrek het, het ek in ’n hotel gewerk met geen ander Suid-Afrikaners nie en ek het een Suid-Afrikaanse vriend gehad. Toe het ek nooit Afrikaans gepraat nie, net as ek my gesin gebel het.

My huidige werk het BAIE Suid-Afrikaners en ek het ook nou baie meer vriende van Suid-Afrika, so as ek saam met hulle is praat ons Afrikaans.

Hier is ook ’n Afrikaanse kerk in Dubai, en al die preke is in Afrikaans. Ons het ook ’n Afrikaanse vroue-Bybelstudiegroep.

Kry jy kans om te reis?

Definitief, Dubai is so sentraal en toeganklik vir en tot die hele wêreld. En ons kry 30 dae verlof per jaar met ’n jaarlikse vliegkaartjie huis toe, maar jy kan jou vliegkaartjie gebruik vir enige ander land solank die waarde dieselfde of minder is.

Vandat ek Dubai toe gekom het was ek al in Thailand, Laos, Kambodja, Indië, die Filippyne, Georgië (die land) en Turkye. My volgende planne is Zanzibar, Ierland, Viëtnam en weer Amerika.

Die ligging en sterk geldeenheid maak dit onmoontlik om nie jouself twee keer ’n jaar te bederf met ’n oorsese reis nie, veral omdat daar so baie is om te sien hier naby!

Skubaduik is een van my gunstelingtydverdrywe

Het jy nog kontak met Suid-Afrika en sal jy ooit terugkom?

Ek dink nie ek sal ooit kontak verloor met Suid-Afrika nie, ek kom ten minste een keer per jaar huis toe en bel baie gereeld vriende en familie.

Dis ’n cliché, maar Suid-Afrika bly in jou bloed en in jou siel, maak nie saak waar jy is nie. My hart sal elke dag verlang na potjiekos-Sondae en KykNet, en brandewyn-“specials”en sokkies. Al probeer ’n mens dit hier namaak, is dit net nie dieselfde as om dit met jou voete op Suid-Afrikaanse grond te doen nie.

Soos dinge nou lyk, is permanent terugtrek na Suid-Afrika nie op die horison nie. Ek sal baie graag wil, veral omdat ons baie familievas is en ons familie nou gaan begin uitbrei (geluk aan my sussie en swaer!). Maar die geleenthede in ander dele van die wêreld is iets wat ’n mens nie deur jou vingers kan laat glip nie. En om eerlik te wees, dit is nogal lekker om nie te stres as ek in die middel van die dag besef ek het nie my huis gesluit nie, of te slaap en nie op te spring as ek ’n alarm hoor nie (brandalarms wat onnodig afgaan is baie algemeen hier).

Tog, dis lekker om te weet ek het altyd ’n hawe en ’n plek waarnatoe ek kan terugkeer en waar ek met ope arms verwelkom sal word, want die hemel weet, Suid-Afrika is ’n vriendelike plek.

Enigiets wat jy wil byvoeg?

As jy ooit wonder of jy moet reis, die antwoord is ja! Om te reis maak jou oë en siel oop vir soveel mooi dinge. Jy kyk na die wêreld en sy mense met baie meer empatie, simpatie en begrip. Die herinneringe maak eintlik seer, maar dis elke traan en verlange werd, want die avonture is onbeskryflik. Vat daardie “gap”jaar (maar kry eers jou graad), gryp daardie werksgeleentheid aan, gaan op daardie eenmaal-in-’n-leeftyd – ek belowe jou jy gaan ʼn beter mens terugkom.

LEES OOK: Uit en tuis: ’n e-pos uit Ierland

Similar Posts