Uit en Tuis: ’n E-pos uit Dublin

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Emri Vorster wat ons ’n bietjie meer vertel oor die vier seisoene wat sy in een dag beleef en hoe sy besef het dat Suid-Afrikaanse kinders werklik baie goeie maniere het.

Hallo, Emri. Vertel ons waar in die wêreld woon jy en hoekom juis daar?

Ek en my man woon tans in Dublin, Ierland. Ons is maar skaars drie maande hier, so alles is nog redelik nuut. Ek het vir ’n jaar in Nederland gewoon en hy was ook al in ’n paar plekke in Europa. Hy het vir so ’n maand in Spanje gewoon en daar het die gogga ons beide gebyt. My man het verlede jaar aansoek gedoen vir ’n PhD-studiebeurs by die Dublin City University (DCU) en nie regtig gedink hy sal dit kry nie, so ons was baie verras toe hy die nuus kry. Ons moes toe vinnig ons planne maak sodat ons so gou as moontlik kon oorkom, verkieslik in September 2021. Maar weens Covid kon ons eers in Januarie kom. Intussen het ons binne twee maande ons troue gereël en huurders vir ons huis gekry, opgepak en alles reggekry vir die nuwe avontuur.

Om in ’n nuwe land aan te pas, kan uitdagend wees. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland?

Ek was nog nooit so dankbaar vir my jaar in Nederland soos nou nie. Dit het my in ’n mate voorberei en dit ’n bietjie makliker gemaak om aan te pas. Hier is ’n paar goed om aan gewoond te raak, soos die weer natuurlik. Dit reën redelik baie. Daar is vier seisoene in een dag en dan gaan almal normaal aan terwyl ek voel of ek verkluim. Om te sien hoe almal steeds aangaan en hul ding doen, maak nie saak hoe die weer is nie, het ons vinnig gedwing om ons toe te rus met die regte klere om hierdie plek aan te vat: reënbaadjies, warm klere, die regte skoene, handskoene en musse!

Iemand het vir ons gesê: “There’s nothing like cold weather, just inappropriate clothing.”

Hulle kos het min smaak en hulle is baie erg oor hulle bier en sport – nie net rugby nie, ook hurling (Ierse hokkie) en Gaelic football, twee baie interessante maar vreemde sportsoorte. Hurling speel jy met ’n stok, en Gaelic football is iets tussen netbal en sokker.

“Hi ya how are ya,” beteken nie “Hallo, hoe gaan dit?” nie; dis net “hallo” en jy hoef nie te antwoord nie. Soms moet ek tot vier keer sê: “Sorry, I can’t hear you,” omdat hul aksent regtig nogal swaar is, maar ook so mooi!

Is daar enige eg Suid-Afrikaanse winkels naby waar jy trooskos soos biltong gaan koop?

Ons het van die begin af besluit ons wil soveel as moontlik deel raak van die kultuur, dus mense, tradisies en kos. En natuurlik is Suid-Afrikaanse kos by die winkels wat dit wel verkoop nogal duur. Ons het wel met ’n bietjie nostalgie begin verlang na Mrs Balls, Crosse & Blackwell-mayonnaise, All Gold-tamatiesous, Creme Soda, Big Korn Bites, mieliepap, Jimmy’s-sous en beskuit! Ons het toe ingegee en is Saterdag met ’n boks huiskos weg by Saffalicious se groothandelwinkel in Clane, ’n dorp in County Kildare. Hulle werk saam met ’n paar winkels, amper soos spazawinkels, wat Suid-Afrikaanse kos verkoop.

Vertel ons watse werk jy doen en hoe ’n tipiese dag in jou lewe verloop? Is die lewe rustiger daar en het jy meer gesins- en ontspanningstyd?

Omdat my man sy PhD doen, kon ek saamkom. Dit is ’n uitsondering, want Ierland is baie streng met hul werkspermitte en visums en geen student mag ’n huweliksmaat saambring nie. Maar as dit by navorsing kom, maak hulle tog uitsonderings, al gaan dit saam met ’n klomp vereistes. Ons moes byvoorbeeld ’n onverkorte huweliksertifikaat toon en bewys lewer dat ons aan ’n mediese fonds behoort en verblyf het in Dublin, wat nogal ’n uitdaging is, want verblyf is baie skaars hier. God het ons egter vooruit gegaan en alles het goed verloop; ons kon selfs ’n huurkontrak teken voor ons hier aangeland het.

Ek mag natuurlik ook nie werk nie, want ons mag glad nie van die staat afhanklik wees nie. Aan die begin was dit ’n groot voordeel; ek het tyd gehad om gewoond te raak aan ’n nuwe huwelik en ’n nuwe land en kon sorg dat ons tuis raak hier. Ons het tyd gehad om dinge te doen!

Natuurlik gaan dit op die lang duur ’n uitdaging vir my wees, want ons gaan vier jaar hier bly en ek sal graag wil besig bly. Hier is baie vrywilligerorganisasies en plekke wat hande nodig het. Ek het myself, my man en ons omgewing die afgelope tyd beter leer ken. Ek het betrokke geraak by die biblioteek en is besig om ’n paar dinge te ondersoek waarin ek belangstel. Hier is gemeenskapsentrums wat fantasties is om die omgewing en mense te leer ken. Hulle bied reg deur die week opwindende aktiwiteite en projekte aan. Ek kon nog nie my graad in teologie hier in die kerk self gebruik nie, maar die bediening is rondom ons! Ek het afgekom op ’n Christelike organisasie in Dublin wat onder andere met kinders werk en ook ’n koffiewinkel, Taste & See Cafe, het. Dit het my dadelik in aanraking gebring met mede-Christene van reg oor die wêreld en my ’n plek gegee waar ek kan ’n handjie bysit!

Hoe het jy ingeskakel en het jy al vriende gemaak? Is jy hoofsaaklik vriende met Suid-Afrikaners of met mense van ander kulture?

In Dublin, soos in baie ander lande, is daar al ’n magdom Suid-Afrikaners en dit is baie lekker om hulle te leer ken. Omdat my man studeer, het hy outomaties vriende gemaak met mense van reg oor die wêreld en is dit ook baie lekker. Ons het ’n paar Suid-Afrikaners wat ons geken het weer hier in Ierland raakgeloop en dit is ’n lekker bonus. Ons het ook nuwe Suid-Afrikaners ontmoet met wie ek nie dink ons sommer in Suid-Afrika sou vriende maak nie. Party is heelwat ouer as ons en bly al meer as 10 jaar hier; ander is ook nog net ’n jaar of so hier. Van my gunstelingervarings is juis om Suid-Afrikaners te ontmoet wat ons pad so toevallig kruis.

Ons het vriende van verskillende ouderdomme en van oral by die kerk ontmoet; ons hoor soveel stories! Om in te skakel, moet ’n mens uit jou gemaksone beweeg en by ’n oefen-, lees- of kunsgroep inskakel, of met ’n vreemde barista begin gesels. Dit help jou om jou voete te vind, ’n ondersteuningsnetwerk te bou en deel te raak van die gemeenskap. Deesdae is daar ook allerhande groepe waarby jy op Facebook kan aansluit, soos voetslaangroepe of rusbankplakkers (“couch-surfers”) wat help met verblyf in vreemde plekke maar ook kuiertjies reël waar ’n mens baie interessante mense ontmoet. Ons het byvoorbeeld saam met ’n ou van Denemarke en een van die Filippyne deur ’n deel van Ierland getoer, en wat ’n avontuur was dit nie!

Sal jy ooit terugkeer Suid-Afrika toe?

Ek kry sommer hoendervleis as ek daaraan dink, want daar is net een nasie vir my en dis die Suid-Afrikaanse nasie. Sjoe, ons is uniek en fantasties! Dit is die grootste voorreg om in Ierland te kan bly en saam met my beste maat avonture aan te pak en ons horisonne te verbreed. Maar ons is onseker of ons ons kinders hier sal wil grootmaak, want hier is dit rof en ons het nog baie min goed opgevoede kinders gesien.

Ons weet Suid-Afrika het baie uitdagings en kinders is oral ’n uitdaging omdat hulle toegang het tot so baie, maar ons taal, ons land en ons mense wen nog steeds!

In Suid-Afrika is die blootstelling aan so baie verskillende tale, kulture en sosiale omstandighede ’n voordeel. Dit het ons juis sterk gemaak om wêreldreisigers te kan wees! Ons familie is ook nog daar en ons sal nie graag ons kinders so ver van hulle af wil grootmaak nie, maar die Skrywer van ons storie sal ons stuur waarheen ons moet gaan en ons is bereid!

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Om te braai, en die geselligheid van ’n braai. Om deur iemand in die winkel voorgekeer te word en land en sand te gesels. Hier gesels mense nie sommer in winkels met mekaar nie. Ek mis dumela en ke a le boa. Ons mis ons weer! Ons land is uniek; ons mense is ons mense. Suid-Afrika staan vir seker nie terug vir enige ander land nie! Ek mis dit om my bure te ken en met hulle te gesels. En ek mis ons gemanierde kinders.

LEES OOK: Uit en Tuis: ’n E-pos uit Sydney

Similar Posts