Van Suid-Afrika na Swede en amper terug

Deur Janine Cronje

My amper tweejarige is in 2021 gebore en kort daarna het ons besluit om na ’n beter toekoms vir ons en ons kind te kyk in die buiteland. As ons maar net toe geweet het wat ons nou weet.

My man het toe ’n werksgeleentheid in Swede gekry. Dit was ’n geleentheid wat net een keer in ’n mens se lewe oor jou pad kom. Hulle het alles vir ons betaal: vliegtuigkaartjies, verblyf vir drie maande, ’n skeepsvraghouer met al ons persoonlike belange – tot ’n ekstra “settling-in bonus”. Daar was selfs ’n hervestigingspesialis wat alles vir  ons gereël het. Dit het gevoel asof dit te goed is om waar te wees.

So vertrek ons met ’n vyf maande oue baba vanaf Kaapstad Internasionale Lughawe. Die aankoms in Stockholm was interessant. Ons weet nie waarheen om te gaan nie en die taal … ’n mens voel heeltemal uit plek uit.

Aan die begin was alles nuut en opwindend. My man het basies dadelik begin werk. Ek moes saam met my baba by die huis wees. In Swede kan kinders eers vanaf een jaar oud skool toe gaan. Die regering betaal jou ook 80% van jou salaris terwyl jy op ouerskapverlof is. Ek, wat nuut in die land was, het die minimum bedrag gekry. Nie ’n bedrag waarop ’n mens kan leef nie, maar die ekstra het baie gehelp.

Want Swede is nie ’n land waar ’n gesin van een inkomste kan oorleef nie.

Ons het baie vinnig besef dat alles baie duur is. As jy ’n plek kan kry om te huur betaal jy ten minste 50% van jou inkomste vir ’n tweeslaapkamerwoonstel ver buite die stad. Kos is verskriklik duur, veral uiteet, en die gehalte van vars vrugte en groente is nie waaraan ons gewoond is in SA nie.

Brandstof en parkering is amper onbekostigbaar. Alhoewel jy kan klaarkom sonder ’n kar, maak dit die lewe net soveel makliker om eenvoudige goed te doen soos kruideniersware te koop en nie swaar sakke huis toe te dra nie.

Die eerste ongeveer ’n jaar was vir ons oukei, ons het regtig ons als gegee om te probeer inpas en ’n lewe hier te bou, maar dit is baie moeilik.

Die kultuur van die mense hier is baie “elke mens vir homself”. Ek sal nie sê die mense is ongeskik nie, inteendeel, hulle is vriendelik. As jy vra vir hulp sal jy tien teen een iemand kry, maar dis asof hulle jou nie uit hulle eie sal help nie.

My man wou eendag vir ’n paar kollegas net ’n koffie koop die oggend voor werk, en hulle het letterlik geweier dat hy betaal, want hulle sê dan skuld hulle hom weer iets.

Die medies en medisyne … wel dit was amper die grootste skok. Vir die eenvoudige pynpille wat ’n mens in Suid-Afrika oor die toonbank koop, het jy hier ’n voorskrif nodig. Daar is baie min medikasie wat jy hier kan kry sonder ’n voorskrif.

Die hospitale en dokters is goed, solank daar niks ernstig fout is met jou nie. Toestande wat onmiddellik in Suid Afrika behandel sal word, sien hulle nie hier as ’n probleem nie.

Dit voel vir my asof jy hier net ’n nommer is – daar is geen menslikheid of bietjie simpatie/empatie vanaf hulle nie.

En natuurlik veroorsaak die taalverskil ’n groot kommunikasieprobleem …

Hierdie is een van die groot redes hoekom ons terug Suid-Afrika toe wil kom: om weer ordentlike mediese hulp te kan kry, al kos dit ’n pophuis vol geld. Ten minste kry jy die hulp waarvoor jy vra.

Wat skole en dissipline aanbetref, was ek geskok oor hoe min dissipline daar in die skole toegepas word. Ek het al in Suid-Afrika as ’n onderwyser in openbare en privaat skole gewerk. Ek weet wat gaan in die skole aan en wat die standaarde is.

Ek werk vanaf Augustus by ’n Engelse privaat skool en is geskok oor die standaard van die onderrig in die skool. Die dissipline is ʼn groot probleem, want dit bestaan amper nie. Die kinders hier weet nie van nagevolge nie.

As ’n ouer voel ek nou my kind sal baie beter onderrig, dissipline en lewenservaring in ’n Suid-Afrikaanse skool kry. Dit is een van die grootste redes hoekom ek terug Suid-Afrika toe wil gaan.

Die weer is ’n groot aanpassing, ek glo nie ’n mens sal ooit daaraan gewoond raak nie – om in die somer amper nooit aand te hê nie en die winter net ses ure sonlig te hê. Dis donker, dis koud en dit is nat.

Bestuur en bestuurslisensies is ook ’n uitdaging. Hier ry hulle aan die regterkant van die pad, maar as ’n Suid-Afrikaner word jou lisensie nie erken nie en jy moet dit oor doen. Behalwe dat dit ’n moeilike, langdradige proses is, kos dit ’n plaas se prys. Daar is ’n tweedagkursus wat bestaan uit teorie en prakties, en dan die eintlike teorietoets en praktiese toets.

As ’n Suid-Afrikaner dink ’n mens, “eerstewêreldland”. Dinge werk daar, dit is beter. Ja, dit is so, vir sekere goed. Daar is ook baie stelsels wat nie werk nie.

Die gras is nie altyd groener aan die ander kant nie.

Ná een jaar en vyf maande het ons besluit hierdie land is net nie vir ons nie.

Die verlange na familie, ondersteuning en net dít wat bekend is, is wat ons laat besluit het om huis toe te gaan.

As ons terugkyk was ons as ’n familie net gelukkiger mense in Suid-Afrika en dit is waarna ons harte smag.

Ek wil hê my kind moet oumas en oupas naby hom hê.

Om net ’n normale gesprek met jou kind se onderwyser in Engels of Afrikaans te kan hê, inteendeel, net om die onderwyser te kan verstaan.

Om net in ’n winkel in te loop en die name van produkte te kan lees. Ek is al moeg vir Google Translate …

Om jou buurman se Saterdag-braaivleis te ruik.

En wanneer dinge moeilik raak te weet daar is ondersteuning en wanneer daar geleenthede is om te vier is jou mense naby jou wat deel in jou geluk.

Ons beplan om Julie 2023 terug in Suid-Afrika te wees. Ek sal nooit spyt wees dat ons in Swede gebly het nie. Ons as ’n gesin het baie geleer en baie ervaring opgedoen, maar ons weet nou waar ons harte is en waar ons ’n lewe wil bou.

Dit is die klein goed wat mens mis.

Die oggendkoffie saam met my moeder.

Die Vrydagaand-whisky saam met my pappa.

Afrikaans!

Ons kultuur.

Similar Posts