Vandag eer ons die taalmakers

Deur Alana Bailey

Op 14 Augustus 1875 is die Genootskap vir Regte Afrikaners (GRA) tydens ’n vergadering in die Paarl gestig. Die stigterslede was C.P. Hoogenhout, D.F. du Toit (alias Oom Lokomotief), S.J. du Toit, A. Ahrbeck, S.G. du Toit, G. Malherbe, D.F. du Toit (ook bekend as Dokter) en P.J. Malherbe – die einste manne oor wie Randall Wicomb sing:

Agt jollie kêrels van die Paarlvallei

Wou die taalkwessie graag regkry

Met geloof en baie moed …

Die vergadering het plaasgevind in die huis van Gideon Malherbe. Vandag is dit die Afrikaanse Taalmuseum. Besoekers kan letterlik in die voetspore van hierdie taalponiers volg.

Die GRA was die dryfveer wat gesorg het dat Afrikaans as ’n amptelike taal ontwikkel word en erkenning kry. Die organisasie se embleem sluit die mooi strewe “Ver [sic] moedertaal en vaderland” in.

Die lede se planne is spoedig tot praktiese uitvoering gebring. Op 15 Januarie 1876 het die koerant wat as spreekbuis vir hulle doelstellings sou dien, naamlik Die Afrikaanse Patriot, verskyn. Dit was die eerste Afrikaanse koerant wat lesers gewoond gemaak het daaraan om in eenvoudige Afrikaans te lees en skryf. In Maart 1896 het Ons Klyntji, die eerste Afrikaanse tydskrif, ook die lig gesien. Die fokus hiervan was veral om Afrikaanse letterkunde te bevorder.

Ander publikasies van die GRA sluit Afrikaanse grammatika- en geskiedenisboeke, ’n Afrikaanse almanak, ’n spel- en leesboek, ’n woordeboek, versamelde Afrikaanse gedigte en prosawerke in.

In sy boek, ‘Ons gaan ’n taal maak’: Afrikaans sedert die Patriot-jare, vertel prof. Jaap Steyn hoe ’n “ongetelde skare” uiteindelik gehelp het om van Afrikaans ’n kultuur- en hoëfunksietaal te maak. Hulle het die fakkel wat hierdie agt manne met hulle taalywer aangesteek het, opgetel en verder gedra.

Mense wat byltjies met Afrikaners te slyp het, poog om polities korrek te wees, of die guns van kaders wil wen, probeer steeds om Afrikaans te marginaliseer en uit die openbare lewe verdring. Een van die wanvoorstellings wat soms in samehang hiermee gebruik word, is dat die GRA en ander taalstryders opportuniste was wat Afrikaans kastig gekaap het om persoonlike of groepsvoordeel daaruit te probeer skep.

Enige gemeenskap lewer opportuniste op, maar as daar na die werk en resultate van die agttal se aksies gekyk word, is dit duidelik dat hierdie beskuldigings nie op hulle van toepassing gemaak kan word nie. Hulle was mense met ’n hartstogtelike liefde vir die taal, wat teen groot persoonlike opoffering gewerk het met die gevolg dat Afrikaans een van slegs vier tale is wat in die twintigste eeu hoëfunksiestatus bereik het.

Tans is daar ook kritiek op die gebruik van internasionaal aanvaarde terme soos hoëfunksietaal en op die standaardisering van Afrikaans, asof dit die taal van haar veelheid van sprekers en variëteite vervreem.

Afrikaans is nie die enigste taal wat stoei met uiteenlopende variëteite nie. Dink maar hoe die Engels van Engelssprekendes in Londen, Glasgow, New York en Perth van mekaar verskil. Tog help die standaardisering van ’n taal om ’n middelgrond te vestig waar almal mekaar kan verstaan en hulle kennisvelde kan beoefen, ongeag die variëteit wat hulle tuis praat.

Die totstandkoming van die GRA was die eerste tree vir die standaardisering van ons taal wat ons in staat gestel het om in die twintigste eeu in Afrikaans harte oor te plant, atome te split, satelliete te lanseer en die grootste ekonomie in Afrika te bou. Vele tale se voortbestaan is juis onder druk omdat dit nog nie in ’n gestandaardiseerde weergawe bestaan nie en gevolglik slegs op beperkte skaal, in plaas van op alle lewensterreine gebruik kan word.

Taal is nie net ’n kommunikasiemiddel nie. Dit is die skepper en draer van kultuur. Dat ’n taal ’n standaard stel en dat hoë funksies soos wetenskapsbeoefening en letterkunde daarin uitgevoer kan word, verhoed nie dat dit ook steeds in ander variëteite gebruik en geniet kan word nie. Dit maak ook nie daarvan die eksklusiewe besit van uitverkorenes of welvarendes nie. Dit skep wel by al die taal se sprekers ’n deurlopende strewe na uitnemendheid en dinamiese groei, wat die voorwaarde is vir enige taal se voortbestaan. Hoëfunksiestatus en standaardisering moet nie as bedreiging of uitsluitingsmeganismes gesien word nie, maar as ’n poort tot prestasie.

Die verhaal van die agt jollie kêrels herinner ons dat die Afrikaanse taalskat van geslag tot geslag verryk en aangegee is, en dat dit nou ons beurt is om verder daaraan te bou.

In prof. Steyn se woorde aan die einde van ‘Ons gaan ’n taal maak’: “Die ‘lesse van die verlede’ is selde eenvoudig en eenduidig, maar ’n paar sleutelwoorde uit fases in die geskiedenis van Afrikaans dui die koers aan: verset en opbou; Helpmekaar; sorg vir die ruimte van ’n volledige lewe; behoud van die taal as die draer van lewensbehoeftes; en skep ’n eie toekoms.”

Similar Posts