Weet is een! ʼn Jaar reeds aanlyn vir leerders

08/03/2023
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Weet

Daar is byna twee jaar voor die tyd agter die skerms gewoel en werskaf voor die webblad op 8 Maart 2022 bekendgestel is – toe met net meer as 200 artikels oor die laerskoolkurrikulum se vakke. Vandag spog Weet met byna 550 gepubliseerde artikels.

Weet se projekbestuurder, Petronel Fourie, verduidelik: “Is jy nuuskierig oor die Krugermiljoene? Weet het interessante inligting wat jy kan lees. Wonder jy wie Justice Mohamed was as jy in Pretoria in sy straat afry? Gaan lees meer oor hom op Weet. Moet jy ʼn taak oor demokrasie doen waaroor jy kopkrap? Weet bevat al die inligting daaroor en gee boonop voorbeelde van demokratiese leiers. Jy kan selfs oor ander ideologieë op Weet lees, soos kapitalisme, sosialisme en kommunisme.”

Buiten die sewe laerskoolvakke waaroor daar ʼn oorvloed inligting beskikbaar is, vertel Weet jou ook meer oor ons eie volkshelde en kunstenaars, oor Einstein, Thatcher en Churchill, oor natuurverskynsels en die diereryk. Die inhoud strek van strokiesprente en skoenlappers, tot Volkskas, die Franse Rewolusie en Freud.

Weet het in die afgelope jaar baie positiewe terugvoer op die webblad ontvang. ʼn Onderwyser het aan ons geskryf om dankie te sê vir ʼn ensiklopedie wat sy in haar klaskamer kan gebruik:

“Dit maak my voorbereiding makliker en die kinders geniet die saamlees. Weet is beslis deel van my klaskamer!” ʼn Ander gebruiker het onlangs geskryf dat sy dit baie geniet om oor die geskiedenis te lees. Nog ʼn gebruiker skryf: “Wow, wat ʼn fantastiese webwerf, regtig uniek”.

Besoek gerus weet.co.za

Deel op

Nuutste artikels