Historiese mylpaal in Brittanje ook van belang vir Afrikaans

Deur Alana Bailey

Te midde van die politieke chaos wat Brittanje tans kenmerk, is ’n historiese mylpaal gister (26 Oktober 2022) bereik wat ook van groot betekenis vir Afrikaans is. Die derde voorlegging van die “Ierse taal en Ulster Skotse”-wetsontwerp wat oor die beskerming en bevordering van die Ierse taal, kultuur en identiteit handel, het naamlik suksesvol in die Britse Laerhuis verloop.

Slegs een klein aanvulling tot die wetsontwerp moet nog deur die Britse Hoërhuis aanvaar word, waarna dit vir koninklike goedkeuring voorgelê sal word en geïmplementeer kan word.

Hierdie sukses volg op jarelange veldtogte van Ierse taalaktiviste vir die erkenning van hulle taal, kultuur en identiteit. In Mei vanjaar het duisende mense juis weer aan ’n betoging in Belfast, Noord-Ierland deelgeneem om die voorlegging van die wetsontwerp te eis. Die organisasie wat vir die byeenkoms verantwoordelik was, An Dream Dearg, se woordvoerder Conchúr Ó Muadaigh het dit as die grootste betoging ter bevordering van die Ierse taal in sy generasie beskryf.

“Ons eis ’n inklusiewe en verdraagsame samelewing waar ons regte in wetgewing vasgelê is om almal te beskerm wat hul lewens deur middel van Iers wil leef,” het hy gesê.

Die wetgewing sal die Ierse taal amptelike status gee, die gebruik van Iers in howe magtig en die aanstelling van Ierse en Ulster Skotse/Ulster Britse taalkommissarisse moontlik maak. Die staatsekretaris sal verder die reg geniet om toe te sien dat die bepalings van die wetgewing uitgevoer word.

Ierse taalaktiviste is versigtig optimisties oor die implementering en sukses van die wetgewing en het verklaar dat hulle sal voortgaan met hulle veldtog vir die gelykberegtiging van hul taal tot dit duidelik is dat die bepalings van die wetgewing inderdaad ten volle in die praktyk nagekom word. Indien dit slaag, sal sprekers van die taal in Noord-Ierland nou by die sprekers van Wallies, Skots en van Iere in die Republiek van Ierland kan aansluit as mense met taalregte wat in wetgewing verskans is.

In Suid-Afrika is die sprekers van inheemse tale, insluitend Afrikaans, tans nog veel minder aktief om hulle taalregte op te eis. Die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale (Wet 12 van 2012) word ná ’n dekade steeds nog nie na behore uitgevoer nie. Afrikaans word nie meer as taal van hofrekord gebruik nie en ander inheemse tale ook nie. Die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette, alias die BELA-konsepwet, hou ’n vernietigende bedreiging vir Afrikaanse moedertaalonderrig in.

By die vergadering in Mei vanjaar in die Paarl oor die behoud van die naam van die Afrikaanse Taalmonument, het een van die teenwoordiges verklaar dat Afrikaanssprekendes helaas leunstoelondersteuners van hulle taal is, in plaas van aktiewe spelers. As ’n mens die opkoms by daardie geleentheid met die bogenoemde betoging in Belfast vergelyk, besef jy dat ons deurlopend sterker en meer sigbaar sal moet standpunt inneem vir die behoud en toekomstige groei van ons taal op alle vlakke.

In 2011 is sensusse in beide Noord-Ierland en Suid-Afrika gehou. Daarvolgens het 184 898 mense in Noord-Ierland ’n kennis van Iers gehad en was dit die huistaal van 4 130 individue. Vergelyk dit met die 6 855 082 huistaalsprekers van Afrikaans in Suid-Afrika in dieselfde jaar ‒ ’n bewys van die sterker posisie waarin Afrikaans teoreties verkeer.

Ons kan nie wag tot die moedertaalsprekers ook weggekrimp het tot die vlakke waar Iers tans is voordat ons wakker skrik nie. Ons moet nou ons taal op alle moontlike maniere versterk en verdedig – van aktivisme soos standpuntinname teen die BELA-wet, tot praktiese steun aan enige Afrikaanse produkte soos publikasies en skeppings op die terrein van die uitvoerende kunste.

AfriForum wens die sprekers van Iers geluk met die oorwinning en werk graag met alle minderheidstaalgemeenskappe saam om te verseker dat ons taalregte nie net op papier nie, maar ook in die praktyk ’n werklikheid word.

Hierdie artikel het oorspronklik op Forum Nuus verskryn.

Similar Posts